Dis ’n goeie ding ek’s nie in Ysland gebore nie want kyk, ek en die koue is nie pêlle nie. Daar’s min positief wat ek oor winter kan sê maar pastei maak die pyn minder. Souskluitjies en melkkos ook. En dan is daar sop – dít verorber ek sonder weerstand maklik elke dag. Een van my lesers skryf onlangs en vra vir my aartappel-en-preie sop resep. Fluweelgladde verleiding met parmantig baie ‘toppings’ vir die ekstra lekker. Hier’s hy.

Al wat jy nodig het is…

1E olyfolie
1½E botter
4 groot preie, slegs die wit gedeeltes
2 huisies knoffel, gekap
5 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny
1 vars lourierblaar
2 x 25g sakkies Ina Paarman ‘Concentrated Liquid Chicken Stock’
4 koppies kookwater
¼t growwe swartpeper
¼t sout
½ koppie vars room
Opsies vir garnering
roosmaryn
spek
preie
krulkool (kale)

Sny die preie in die helfte met die lengte langs en was goed onder lopende water om te verseker hulle’s silwerskoon. Grond het ’n gevaarlike manier om in pruie weg te kruip! Kerf dan die preie fyn en sweet hulle saam met die knoffel oor baie lae hitte in die olyfolie en botter tot sag. Wees versigtig dat jy hulle nie bruin braai nie , jy soek hulle bleeksiel. Voeg die aartappels, lourierblaar, Ina Paarman aftreksel, water, peper en sout by. Sit die deksel op en kook oor medium hitte tot die aartappels sag is. Gebruik ’n staafmenger om die sop te puree – fluweelglad is hoe dit moet wees. Plaas terug op die hitte en voeg die room by. (Nota: die soutinhoud hier is aangepas vir die vloeibare Ina Paarman aftreksel wat ek gebruik het. As jy ’n ander een gebruik soos bv. Nomu se ‘Chicken Fond’ proe eers voor jy sout byvoeg.)

Vir die garnering, sny die spek in blokkies en braai tot brosbruin. Braai daarna die roosmaryn blaartjies in die spekvet tot bros. Week preie ringetjies in bietjie koekmeel en diepbraai in so 3cm gewone olie tot bros. As jy krulkool ook wil gebruik, gooi bietjie op ’n slag in dieselfde olie. Hulle is bros in letterlik 2-3 sekondes, so hou hulle dop. Braai jy hulle langer as dit, word hulle bitter. Wees ook versigtig as jy die krulkool in die olie sit want dit skiet vir ’n vale!

bedien

4

vooraf

15 min

kook

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Winter 2017 wynproe

Sop en wyn by Perdeberg

Perdeberg Wyne maak harte warm en magies vol hierdie winter met ’n spesiale sop, wyn en bier proe.
Jy kan uitsien na:
• Hulle Vineyard Collection Grenache Blanc 2015 en Hops & Co Pale Ale saam met botterskorsiesop.
• Hulle Vineyard Collection Malbec 2015 en Hops & Co Pilsner saam met sampioensop.
• En hulle Dryland Collection Cabernet Sauvignon 2013 en Hops & Co Lager saam met ’n ryk tamatiesop.

Slim is hulle gewis want hulle’t ook iets vir die kleingoed. Terwyl jy aan sop en wyn smul, kan die kinders weglê aan melkskommel en malvalekkers! Daar’s aarbei melkskommel gepaar met Smartie malvalekkers, sjokolade melkskommel saam met karamel malvalekkers en uiteindelik piesang melkskommel saam met sjokolade malvalekkers.

Die sop storie vir grootmense kos R70 per persoon en die soete fees vir kinders R50 per persoon. Bespreking is noodsaaklik. Hierdie spesiale aanbod is geldig die hele Julie 2017 met die moontlikheid van Augustus ook. Gesels met Terence op 021 869 8244 of stuur ’n e-pos na Terence@perdeberg.co.za

scroll

lekker saam met

Wyn is vir my soos mense – hoe meer hulle sukkel en ‘suffer’, hoe interessanter is hulle. So hier’s vinnig ’n WYN-101 lessie: Hoe droër die klimaat en hoe goorder die grond hoe beter die wyn, want die wortels moet diep grawe en die druiwe is min. Die resultaat? Kwaliteit vrugte wat intense, komplekse wyne maak. Dis natuurlik nie altyd die geval nie. Ek het al menige powere goor-toestand wyn afgedwing. Maar as ’n reël kan jy daarop reken dat swaarkry beter wyn beteken.

Dis beslis die geval met Perdeberg se 2016 Rooted Chardonnay. Die wortels loop soek water tot by die 2 meter diep in die los graniet en glenrosa grond waarin hierdie 18 jaar oue druiwe groei. Lewering is net 9 ton per hektaar en die druiwe word met die hand gepluk. Die wyn word gefermenteer in 500L Franse houtvate, waarna dit nog 8 maande rustig lê voordat dit ’n bottel sien.

Op die neus is daar die appel en sitrus wat mens van ’n Chardonnay verwag asook ’n tropiese titsel. Op die tong is dit vris en vars met goeie suurbalans.

Rooted

scroll-main

Ook beskikbaar in: English