Sit ‘n spul vrouens om ‘n tafel en jy weet – almal gaan ‘n proetjie vat aan wat op jou bord is. Dis ‘n ding wat geen man ooit sal verstaan nie. Dis seker oor hierdie almal-se-kos-proe ding van ‘n vrou dat ek so mal is oor die antipasto en tapas manier van eet. Gryp ‘n groot bord. Tuimel olywe, salami, kersietamaties en ingelegde artisjokharte daarop en bedien dit saam met warm ciabatta brood. Dis die perfekte niks-kook begin vir ‘n gesellige kuier om die tafel. Maar hierdie is ‘n blog oor kook, so hier is ‘n ietsie ekstra vir so ‘n antipasto bord – geroosterde soetrissies met ansjovis en knoffel, gekus met vrugtige olyfolie. Salig.
Al wat jy nodig het is…
2 groot rooi en 2 groot geel soetrissies, gerooster
6 ansjovis filette
½ knoffelhuisie, fyngedruk
groot handvol Italiaanse pietersielie, gekap
3E goeie olyfolie
growwe swart peper
kapertjiesaad (opsioneel)
Ek’s mal oor die soort kos wat dit laat lyk asof jy nogal moeite gedoen het, terwyl jy eintlik net ‘n paar goed bymekaar gegooi het. Hierdie resep is een van daai en werk heel goed met ‘n bottel geroosterde soetrissies. Maar ek verkies om my eie te rooster. Dis goedkoper en baie maklik (sien ‘goed om te weet’ hieronder.) As die soetrissies eers gerooster is, is dit net saamflans en dit vat net ‘n minuut of twee. Hier’s hoe…
Sny die geroosterde pepers in groterige stukke. Voeg die ansjovis filette (hou hulle heel of sny hulle kleiner), knoffel, pietersielie en olyfolie by en laat dit vir ‘n uur teen kamertemperatuur staan sodat die geure kans kry om mekaar te leer ken. Vir my is dit nog beter die volgende dag, maak net seker jy haal dit betyds uit die yskas want hierdie is nie ‘n ding wat jy koud eet nie. Gooi nog ’n stewige skoot pietersielie en ‘n blertsie olyfolie op net voor jy dit bedien, gee hom ‘n draaitjie swart peper en hy’s reg. O ja, as jy van kappertjiesaad hou, strooi sommer ‘n paar van hulle ook oor. Bedien met ciabatta of Franse brood.
bedien
4
vooraf
15 min
kook
15 min
goed om te weet
Soetrissies rooster is kinderspeletjies…
Sit eenvoudig die heel soetrissies op ‘n bakplaat in ‘n 200°C oond vir 15 minute. (As die skil begin blase maak en hier en daar begin bruin brand is hy reg.) Sit die vuurwarm soetrissies dadelik in ‘n plastieksak, seël dit goed en laat dit vir 5 minute staan. Die amper papieragtige skilletjie van die soetrissie sal nou sommer maklik afglip. Trek die stingel uit, skraap die pitjies uit en siedaar, ‘n geroosterde soetrissie reg vir olyfolie.
… maar opwas is ‘n duiwel
Soetrissies maak nogal ‘n gemors van ‘n bakplaat wat staalwol, Vim en blou dampe swets nie afkry nie, so voer jou bakplaat met waspapier. Frommel op. Gooi weg. Skottelgoed gedoen.
lekker saam met
Vir ‘n lang, gesellige proe-proe kuier soek jy ‘n ongekompliseerde wyn. Jy weet julle gaan ‘n paar bottels kafdraf, so prys maak ook saak. Probeer Allée Bleue se Starlette, dis 56% Sauvignon Blanc, 44% Chenin Blanc.
Met sommer ‘n spul vrugte op die neus en die tong is dit ‘n wyn wat meeste mense sal geniet. Hierdie is nie ‘n toekomstige dubbelgoue pryswenner nie, maar hy’s baie skaflik as ‘n elke-dag wyn onder R40
Die blog is fantasties!
Ek is sommer geinspireer om aan die kook te gaan.
Sien uit na alles wat julle nog gaan optower.
Groete,
Margaux
Dankie Margaux!