Somer is hier in al sy glorie en in my boek beteken dit slaai – by die tonne. Nie ‘boring’ slaai nie verstaan, iets wat interessant genoeg is vir my om dit te wíl eet. Iets soos hierdie tunaslaai. Geblikte tuna kan maklik ’n lelike ding wees. Die fyn een in water is my dood. Maar groot tunastukke in olie het ’n plek in my kombuis.
My voete is stewig in Provence met hierdie tunaslaai. Die dinge wat jy in ’n Provensaalse Niçoise slaai sal kry is teenwoordig– net in heel ander gewaad. In plaas van heel in die slaai gebruik ek die ansjovis filette as die basis vir ’n fantastiese knoffel-belaaide slaaisous. Die olywe kap ek fyn en sit hulle ook in die sousie. Tonne pietersielie, ’n knip rissie en piepklein non pareil kappertjies kom ook by. Dis ’n slaaisous wat ek sommer warm oor pasta gooi en aandete noem. En dit verander ’n doodgewone tunaslaai in iets besonders.
Al wat jy nodig het is…
VIR DIE GEPEKELDE UIE
halwe pers ui, in baie fyn ringe gesny
4E asyn
4E water
1E suiker
knip sout
VIR DIE SOUS
6E olyfolie
3 vet knoffelhuisies, oopgebreek met die agterkant van ’n mes maar steeds in die skil
3E witwyn- of rooiwynasyn
2 ansjovis filette (of meer as jy dol is oor ansjovis)
knip droë rooirissie
6 swart pitlose olywe, gekap
2E Italiaanse pietersielie, fyn gekap
1E piepkein non pareils kappertjies (Woolworths hou dit aan)
sout na smaak
VIR DIE SLAAI
6 baba aartappels in hulle skilletjies
komkommer
200g fyn groenbone
1 blikkie tuna stukke in olie, gedreineer
2E dennepitte (pine nuts)
trossie kersietamaties op hulle stingels, gekus met ’n blerts olyfolie
klein basiliekruidblare
Meng die water, asyn, knip sout en suiker tot opgelos. Voeg die uie by en laat staan vir ten minste 20 minute om lig te pekel en dreineer dan. Sit die olyfolie in ’n klein pan op baie lae hitte saam met die knoffelhuisies en verhit vir 5 minute. Verwyder van die hitte en laat dit staan vir ten minste 20 minute. Hoe langer, hoe beter. Plaas terug op die hitte en voeg die rissie en ansjovis by. Roerbraai tot die ansjovis verdwyn. Verwyder knoffel, verwyder van die hitte en voeg die non pareils kappertjies, pietersielie en olywe by. Proe vir sout en pas aan indien nodig.
Kook die groenbone bitter vinnig – hoe dunner hoe korter, net ’n paar minute doen die ding. Dit moet gewis goed al dente wees. Skok bone deur in yswater te dompel. Dreineer en hou eenkant. Kook die aartappels tot sag en sny in die helfte. Rooster terselfdertyd die tamaties in ’n 150 grade Celsius oond 10-15 minute. (Of hou hulle rou indien verkies.) Die dennepitte kom ook in die oond in ’n aparte bakkie tot hulle lig goudbruin is. Hou ’n oog op hulle, hulle brand gou en ’n te-donker neut is aan die goor kant.
Sit alles bymekaar en wees mildelik met die sous. Strooi die dennepitte oor en ’n paar piepklein basiliekruidblare vir die mooi en ekstra lekker en jy’s klaar. As daar eetbare kappertjie blommetjies in jou tuin is, kom dié ook by. Want ’n fraaie eetbare blom op kos is mos nooit verkeerd nie.
bedien
2
vooraf
20 min
kook
20 min
Nog idees
Wat van…
1) ‘n Tradisionele Niçoise slaai het meestal gekookte eiers ook in. Gekook of geposjeer, eiers hierby maak dit ‘n vullende maaltyd en nie net ‘n slaai nie. As jy elegante klein porsies van hierdie slaai wil maak vir onthaal, gebruik piepklein kwarteleiertjies. Hulle’s tog te fraai.
2) Groenpeper of geelpeper sal ook hierby werk.
3) En as jou beursie dik is, los die geblikte tuna en gebruik eerder ‘n tunasteak.
Nuut op die rak
My keuse by hierdie slaai sal ‘n ligte witwyn wees. Ek het al tevore oor Van Loveren se Skinny Light White geskryf. Dis een van my gunsteling laer-alkohol witwyne. Maar nou het hulle een stappie verder gegaan… met Almost Zero.
Soos jy uit die naam kan aflei bevat dit so te sê geen alkohol nie – minder as 0,5%. ‘n Tipiese laer-alkohol witwyn is hier 8-9% en ‘n gewone witwyn hier 12-14%. So Almost Zero is regtig ongewoon. Dit het ook 75% minder kilojoules as ‘n witwyn!
So wat is Almost Zero? Dis van 100% Sauvignon Blanc druiwe gemaak en dit is so te sê alkohol-vry. Is dit dus ‘n sap? Gewis nie. Maar ek sal dit ook nie regtig ‘n wyn noem nie, hoewel dit seker streng gesproke is. Vir my is dit eerder ‘n wynalternatief. Hoe proe dit? Soos geen ander ding wat ek nog ooit gedrink het nie. Dis ongelooflik lig met ‘n titsel appel, sitrus en tropiese vrug. Maar soos wyn-wyn proe dit nie.
As jy jouself om die braai wil geniet maar steeds 1) veilig wil ry en 2) in jou skinny jeans wil pas is hierdie ‘n goeie alternatief. Dis ook iets om aan te dink vir gaste wat nie van ‘wyn’ hou nie. Koop ‘n bottel en sien vir jouself of Almost Zero jou veilig-ry somer staatmaker gaan wees.
Los 'n Boodskap