Krismis kom mense! Kind-opgewonde, dís hoe ek oor Kersfees is. Saterdag kon ek eenvoudig nie meer wag nie. Ek loop vroetel in die kas in my spaarkamer en onthul al my Kers-tierlantyntjies wat die laaste elf maande snoesig in hulle sneespapier vir my lê en wag. Nou’s die hele huis die ene silwer, en wit en goud en liggies – nes ek daarvan hou.

Ek sien uit na mense by dosyne wat kom kuier en eet, maar stres met kos is die een ding wat ek nie wil hê nie. Met ’n paar wintie kortpad geheime is dit ook nie nodig nie. Kortpad geheime soos hierdie melktert mille feuille. Die vulsel maak jy op die stoof, sommer ’n dag of twee tevore. En die deeg kom uit ’n winkelboks. Slat die lotjie aanmekaar in minute en sien hoe mense ‘oe’ en ‘aah’.

Al wat jy nodig het is…

Melktert vulsel, verkoel – kry die resep hier
Woolworths All Butter Puff Pastry (geen ander een is goed genoeg hiervoor nie)
halwe koppie vars room
strooisuiker
kaneel
versiersuiker

Sny een vel skilferkorsdeeg in drie gelyke dele. Sif bietjie strooisuiker oor en sit dit op ’n bakplaat gevoer met bakpapier. Sit nog ’n vel bakpapier bo-oor en dan nog ’n bakplaat. Bak teen 200 grade Celsius vir 20 minute. Verwyder dan die boonste plaat en bakpapier en bak tot goudbruin en deurgaar – nog so 5-10 minute. Laat heeltemal afkoel. Klits die room styf met 1E strooisuiker. Vou die room deur die koue melktert pap. Skep in ’n pypsak en maak fraaie dotjies op die onderste laag skilferkors. Bestrooi mildelik met kaneel en herhaal met die tweede laag skilferkors. Sit sy derde laag op en bestrooi die melktert mille feuille met versiersuiker vir die mooi.

NB: Ek gaan nie vir jou jok nie, hierdie mille feuille knaap is ’n pes om te sny en mooi te hou. ’n Baie skerp broodmes werk. ’n Skêr selfs beter, want jy kan deur die indivuele deeglae sny sonder om alles te beduiwel. Maar my heel beste raad is om bietjie te kroek. Sny die drie gebakte lae in gelyke porsie-groot stukke vóór jy die melktert vulsel opsit. Pak dan die stukke lang mekaar sodat die lae weer heel lyk en dan kom die vulsel op. Niemand sal weet dis klaar gesny nie, veral nie as jy eers die fraaie versiersuiker gesif het nie. Sien, minder stres meer ‘impress’!

bedien

6-8

vooraf

30 min

bak

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English