Kyk Maandag tot Vrydag is brêkvis in die M&M kombuis maar ’n skrapse affêre. Die fokus is op gesonde energie vir die dag en vínnig afsluk. Maar dan’s daar naweke mens, en dinge kan nie meer anders wees nie. Ek sit my selfoon af en kyk nie vir die klok nie. Soms bodder ek nie eers met grimering nie. Want wie gee dan nou om? Ek hoef mos nie vir myself te kyk nie. Waarmee ek wél bodder is eet – genotvol en langsaam. Stoute soete botterige verleiding is net die ding om ’n Saterdag reg te begin. Franse roosterbrood is natuurlik nie noodwendig ongesond nie. Maar hy is soos ék hom naweke maak.

Met sy sagte tekstuur en sweempie soet is Kitke-brood een van my gustelinge. Ek sny hom dik en doop hom in ’n romerige, soet melk-en-eier skommel gegeur met vanielje en hope spesery. En dan braai ek die knaap in botter. Dis heerlik net so met ’n sweempie heuning. Maar as jy nou regtig wil uithang, rooster sommer ook plompe pruime wat nou so wonderlik in seisoen is met bietjie heuning. ’n Lepel of twee mascarpone of dik joghurt en die Kaap is sommer weer Hollands.

Al wat jy nodig het is…

3 pruime
heuning
2 ekstragroot of jumbo eiers
5E room
8E melk
1½E strooisuiker
¼t vanielje-essens (regte vanielje-ekstrak is natuurlik soveel beter!)
¾t gemengde spesery (mixed spice)
¾t kaneel
4-6 dik snye kitke-brood (of brioche, of Paasbolle in die helfte gesny)
gesoute botter vir braai
mascarpone of dubbelroom joghurt, vir bedien

Halfveer die pruime en verwyder die pitte. Plaas in ’n oondvaste bak, bedruip lustig met heuning en rooster in ’n 150-grade Celsius oond to lieflik sag. (Hoe lank dit vat hang af van hoe ryp die pruime is – enigiets van 10 minute tot 30 minute. As jy haastig is, kan jy dit eenvoudig panbraai in bietjie botter en heuning!)

Verwyder die pruime sodra hulle stroperig en sag is en hou warm. Klits die eiers, room, suiker, vanielje en speserye. Doop die snye brood daarin vir ’n goeie paar sekondes – jy wil mos die knaap bietjie tyd gee om die soete spesery eiermelk storie op te suig. Panbraai oor medium hitte in botter tot goudbruin aan albei kante. Bedek met ’n paar pruime, skep enige vrugtestroop wat gevorm het oor en gee hom ’n lepel of wat mascarpone of joghurt. Bedien warm met ekstra heuning vir dies met ’n erge soet tand – dis nou mense soos ekke…

bedien

2

vooraf

10 min

kook

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English