Ek dreig hoeka al om moules mariniere – fênsie Frans vir mossels in witwyn – te maak. Toe ’n bottel Protea Sauvignon Blanc ’n week of wat terug aan my deur kom klop (met komplimente van die gawe mense van Anthonij Rupert Wyne in Franschhoek), was daar nie meer verskonings nie, mossels in witwyn moes dit wees. ’n Properse Franse moules mariniere is bitter eenvoudig en behels meestal net sjalotte, witwyn, botter, pietersielie en mossels. Sommige kokke sit ’n lourierblaar, huisie knoffel en skeut suurlemoen ook by.

Dis hoe ek gewóónlik my moules mariniere maak. Maar hierdie een het ’n lente-kinkel, want so met die mossel-kopery sien ek ook vir die eerste keer mikro suring (sorrel) by Woolies. Nie net groenes nie, pers blaartjies ook, tog te fraai. Dit herhinner my aan die lieflike takkie/blommetjie-ontwerp wat op die Protea wynbottel pronk. Suring, soos jy uit die naam kan aflei, is parmantig suur en ek dink dadelik ek kan dit gebruik in plaas van die meer gewone suurlemoen. Die suring beland in my mandjie saam met plompvette mossels en plaasbotter.

Terug by die huis pluk ek ’n takkie dille en ’n paar eetbare blommetjies uit my tuin. Tien minute later is aandete op die tafel – lente moules mariniere om die koms van warmer dae en oop sandale vir my bloedrooie tone te vier.

Al wat jy nodig het is…

3E fyngekapte sjalotte (gebruik wit uie as jy nie sjalotte het nie, kap dit net baie fyn)
3 opgehoopte eetlepels gesoute botter
1 vet knoffelhuisie, fyn gekap
¾ koppie Sauvignon Blanc
1.5kg vars mossels
groot handvol Italiaanse pietersielie, net die blaartjies, rofweg gekap
blaartjies van een klein klein stiggie dille, rofweg gekap
1-2E baba suring-blaartjies (jy kan dit vervang met ’n skeut vars suurlemoen indien verkies)
eetblare blommetjies

’n Nota oor die mossels: Jy móét baie goeie kwaliteit vars mossels gebruik as jy moules mariniere maak. Nie mossels wat gevries was nie, nie mossels op ’n halwe skulp nie – VARS mossels. Die soort waaraan die baard nog kleef. Goeie viswinkels is ongelukkig so skaars as hoendertande in Suid-Afrika. Gelukkig het groot Woolworths winkels dikwels vars mossels op ys. (As jy in die Kaap is, probeer die Constantia tak, hulle het gewoonlik. Met die Waterfront en Cavendish takke hoef jy nie te bodder nie, jy gaan net jou petrol mors.)

Maak die mossels skoon deur die baard af/uit te trek. Jy moet redelik hard pluk, die mossels klou aan hulle baard! Spoel die mossels goed af onder lopende water en sit opsy. Braai die sjalotte oor lae hitte in die botter vir so vyf minute. Jy wil hulle net sag sweet, bruin moet hulle nie raak nie. Voeg die knoffel by en braai vir nog ’n minuut. Maak jou vlam hoër en tuimel die mossels in asook die wyn. Sit die deksel op en kook tot die mossels net-net gaar is. (Hulle is gaar sodra hulle oop is – so 5 minute.) Verwyder van die hitte en roer die pietersielie en dille in. Tuimel die mossels en sous in ’n diep bak, strooi die suring oor asook die blommetjies en bedien dadelik. As jy bros baguette hierby bedien vir doop in die sous, sal hierdie resep drie mense voer. Vermy jy die brood, is dit voldoende om twee grootmense plesierig te laat smul.

Anthonij Rupert Wyne se Protea reeks: Die Protea reeks is uitstekende waarde vir ’n elke-dag wyn. Daar’s wit, pienk en rooi in die reeks en almal is lieflik, maar wat my hart ekstra vinnig laat klop is die ongewone mooie bottels. Elkeen is bedruk met ’n unieke ontwerp wat nie afwas nie. Gebruik die bottels vir asyn, olie, badolie, opwas-seep, wat ook al. Of gebruik jou verbeelding en omtower die bottels in drinkglase, houers vir vetplantjies of, soos in my foto hier, ’n fraaie houer vir teeliggies! Die Protea wynreeks is landwyd beskikaar in wynwinkels en supermarkte asook aanlyn.

bedien

2-3

vooraf

5 min

kook

10 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English