Kyk ek gaan nie vir jou ore aansit nie, om resepte te ontwikkel en kiekies van kos te neem vir ’n lewe is vet pret – maar sommige dae selfs meer so. Soos onlangs toe Clover en die mense van Expresso ontbyt-TV my vra om iets te maak met Clover se Super M piesang-melk. As kind was ek kopaf dol daaroor, veral die geel ene en die ‘cream soda’ groen ene.
Toe dag ek waarom dan nou nie iets wat basies ’n kinderbederf is gebruik om ’n grootmens poeding te maak nie? Hier’s hy – my piesang-melk panna cotta. Die kleingoed gaan vrek daaroor net so plein, maar sit granadilla en geroosterde klapper by en skielik is hierdie piesang-melk panna cotta ’n heel skaflike poeding vir die ouer garde ook. Hierdie resep is so maklik, Merlot kan dit maak. Steek dus die kleingoed aan die werk en laat hulle vir ’n verandering die nagereg doen.
Al wat jy nodig het is…
4 gelatien-blare (‘gelatine leaves’ verkrygbaar by Woolworths)
250ml vars room
4E strooisuiker
350ml piesang-melk
granadillas en geroosterde klapper
Week die gelatien in koue water vir 10 minute. Verhit intussen die room met die suiker, maar moet dit nié laat kook nie. Verwyder van die hitte sodra warm. Druk die water uit die gelatien en voeg een stuk op ’n slag by die room. Roer tot al die gelatien heeltemal opgelos is. Voeg dan die koue piesang-melk by die room en meng deur.
Verdeel die mengsel tussen ses metaal panna cotta bakkies. Indien jy nie sulke bakkies het nie, skep dit eenvoudig in fraaie klein glasies. Verkoel vir ten minste 3 ure tot geset. Indien jy die metaal panna cotta bakkies gebruik het, doop eenvoudig die bakkies in warm water vir ’n sekonde of twee. Plaas ’n klein piering op elke bakkie, keer dit om en die panna cotta sal uitglip. As jy dit in glasies gemaak het, sit jy hulle net so op die tafel. Garneer met granadilla en geroosterde klapper.
bedien
6
vooraf
15 min
koelkas
3 ure
Los 'n Boodskap