Eet, soos my heupe getuig, is my absolute gunsteling tydverdryf. (Wyn drink is waarskynlik tweede, maar laat ons nou nie te veel daaroor uitwei nie. Ek wil nie hê jy moet sleg dink nie.) Dis ’n gawe ding dat eet en ek pêlle is. Dit maak die resepontwikkeling deel van my werk ’n vreugde. Met die dat ek betaal word daarvoor, is dit meestal ’n redelike ernstige saak. Maar pret is daar altyd te hê in my kombuis en dikwels gee die resepte wat ek ontwikkel my idees vir iets anders. Prettiger dinge wat lékker is om te eet en máklik is om te maak.

So betrag ek onlangs ’n hoop ClemenGolds vir drie resepte waarmee ek vorendag moes kom. Ek kyk na die plompe ronde oranje provol sap. En ek dag ja, hiérdie knaap vra ’n krakerige suikerkombersie met spesery. Dink daaraan as die sitrus weergawe van toffieappels. Vir grootmense bedien ek dit met ’n romerige joghurt met ’n knertsie by. Vir kinders doen roomys die ding.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie strooisuiker
¼ koppie water
1 lang stuk pypkaneel
4 naeltjies
4 klein ClemenGolds (die baba Clemengolds wat Woolies vir die kleingoed verpak is die perfekte groote)
Vir bedien:
2 koppies dubbelroom joghurt
1 koppie vars room
2 E strooisuiker
sopie brandewyn, Cognac, van der Hum of Cointreau (opsioneel)
pistasieneute of amandels, liggies gerooster in ’n droë pan en rof gekap

Skil die ClemenGolds versigtig sodat die delikate membraan om die vrug nie beskadig word nie. Plaas die vrugte op ’n bakplaat gevoer met kleefvrye bakpapier en sit eenkant. Plaas die suiker, water, kaneel en naeltjies in ’n klein kastrol en kook tot dit goudbruin karamel is. Om te toets of die karamel die regte punt bereik het, drup bietjie in yskoue water. As dit dadelik kliphard set, is dit reg. As dit klewerig of toffierig bly, kook dit vir nog ’n minuut of wat. Gebruik ’n groot lepel en bedruip die Clemengolds met die karamel.

Klop die room styf saam met die 2E strooisuiker. Vou dit versigtig by die joghurt en vou ook 1E van die knertsie van jou keuse by (die Van der Hum of Cointreau werk veral goed). Bedien in fraaie glase met ’n toffie-ClemenGold en gekapte neute.

bedien

4

vooraf

10 min

kook

10 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English