Ek’s gewoond dat my hart vinniger klop in supermarkte. In die verlede was dit oor ek kinderlik opgewonde raak in die teenwoordigheid van mooi bestanddele. Deesdae is dit ongelukkig daai mooi dinge se pryse wat my palpitasies gee. My kop draai skoon soos my rande by die week minder rek.

Eet moet mens, so goedkoper resepte wat meer mense voer is die enigste genade. En daarvoor kyk ek na die dele van ’n dier wat minder gewild is. Dele soos wange, ore en pote. Ek weet dít sal menige bang maak, so kom ons begin by ietsie makker – skenkels. Spesifiek ’n vark s’n.

Laasweek loop ek stukke varkskenkel by Pick n Pay raak teen net R45 ’n kilo. Kan jy nou meer. Terug by die huis hou ek my lyf Italiaans met witwyn en vinkel. Lank en stadig prut ek die lotjie tot dit van die been afval. Die perfekte ragu vir pasta en kos vir ses grootmense – vir omtrent niks.

Al wat jy nodig het is…

900g varkskenkel stukke (sonder vet)
gewone kookolie, vir panbraai
2E varkvet (dis pure geur, die resep is nie dieselfde daarsonder nie)
1 ekstragroot ui, fyngekap
2 groot knoffelhuisies, fyngekap
2E tamatiepasta
1 hoogvol eetlepel koekmeel
2 koppies droë witwyn
½ koppie water
knippie rissievlokkies
1½t vinkelsade
1 takkie roosmaryn
1t sout

Verhit ’n dikbodempan. Gooi ’n paar eetlepels kookolie in en braai die skenkel (net ’n paar stukke op ’n slag) tot alkant mooi bruin. Verwyder vleis en hou eenkant.

Voeg die varkvet by die pan en voeg die uie by. Braai tot sag en liggies goud. Voeg dan die tamatiepasta en knoffel by en braai vir ’n verdere minuut. Voeg die meel by en roer vir ’n paar sekondes tot dit verdwyn. Voeg die witwyn by en dan die water en roer goed om enige stukkies van die bodem van die pan te lig. Sit die vleis terug in die pan en voeg die res van die bestanddele by.

Sit die deksel op, plaas op jou kleinste plaat op die laagste hitte en prut vir 2-3 ure. As jou hitte laag genoeg is en jy’t ’n goeie pan behoort die vloeistof genoeg te wees. Maar loer af en toe en voeg ’n paar eetlepels water by indien nodig.

Gebruik twee vurke om die vleis te pluis en verwyder enige beentjies. Proe vir sout. Bedien met pasta van jou keuse en hope vars parmesaan of pecorino. Ek braai ook nog ’n paar takkies roosmaryn en krummel dit oor vir ekstra diep geur en bietjie tekstuur kontras.

bedien

6

vooraf

25 min

kook

2-3 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English