Ek’s ’n bok vir mosterd. Maak my yskas oop en jy sal ten minste vyf soorte sien. Goeie ou sterk Engelse mosterd, korrelmosterd (wonderlik vir slaaisouse), Dijon (wonderlik vir als) en gourmet nommertjies met eksotiese bestanddele soos truffels en Chablis. Gesofistikeerd verby.

Maar ek het ook die ander soort in my koelkas, die een wat ek self maak, soos ouma dit gemaak het – met eiers, suiker en asyn. As kind het ek dit by die koppievol op polonie gesmeer. Vandag weet ek natuurlik beter, want ek’s mos nou gesofistikeerd… Jip, ek smeer dit op ham. Hier’s hy, outydse soet-suur mosterd soos ouma dit gemaak het.

Al wat jy nodig het is…

2 ekstragroot vars eiers (gebruik ‘free range’)
5t mosterdpoeier
2½E witsuiker
2½E bruinsuiker
ekstragroot knip sout
¼k koue water
5E gewone witasyn

Klits die eiers, mosterdpoeier en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die water, sout en asyn by. Plaas in ’n mengbak wat netjies op ’n pot kookwater pas sonder om aan die water te raak. Kook terwyl jy deurentyd klits tot die mosterd dik is. Verwyder van die hitte en plaas ’n stukkie kleefplastiek direk op die mosterd. Laat afkoel tot kamertemperatuur, skep in ’n bakkie of flessie met ’n deksel en plaas in die yskas tot jy die mosterd gebruik. Hierdie mosterd sal vir ’n week in jou yskas hou.

maak

1 bottel

vooraf

5 min

kook

7 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English