Soms sukkel resep skryf in Afrikaans. Hoe dan nou gemaak met ‘pulled pork’? Jy kannie sê ‘getrek’ soos in getrekte vark nie. Dan klink dit half die dier het te diep in die bottel gekyk. Gepluis? Gevlok? Nie een laat my mond water nie. So in my huis is hierdie manier van vark kook ‘pulled pork’ en die taalpuriste moet liefs nie kom aansit nie.

‘Pulled pork’ is ’n Amerikaanse kosinstelling. Varkskouer is wat hulle gebruik en hulle kook hom lank en stadig, verkieslik in ’n buite-oond met ’n houtvuur. Wat daar uitkom na so agt ure is sappige, sagte, rokerige verleiding.

Daar’s hope resepte vir ‘pulled pork’, meeste het een ding in gemeen – die varkskouer word goed ingevryf met hope spesery. Die doel is nie net om die vark ekstra lekker te maak nie, maar spesifiek om die rokerige ‘barbeque’ geure te beklemtoon. Gewone paprika, gerookte paprika, komyn, koljander, rooipeper, vinkel, heuning, mosterd, tiemie en selfs vloeibare rook word mee gespeel.

Daar’s niks fout hiermee nie, behalwe… ’n Volwasse vark is nie juis klein nie. Tensy jy beplan om ’n rugbyspan te voer gaan jy sit met oorskiet. Baie daarvan, alles met dieselfde geur. Dis hieroor dat ek nie onnodig aan varkskouer peuter nie. Ek vryf hom in met net bietjie sout en bruinsuiker en dis oond toe vir so ses ure. Wat uitkom proe pure vark, perfek om tot koningskos te verhef met verskillende interessante geure. Loer na my vyf resep idees hieronder en eksperimenteer met nog van jou eie.

Al wat jy nodig het is…

1 varkskouer, vel verwyder
2E sout
2E donker bruinsuiker
2 groot uie
1 koppie water

Sny die uie in kwarte en pak hulle in ’n roosterbak. Meng die sout en suiker en vryf oor die varkskouer. Gooi ’n koppie water in die roosterbak, bedek baie goed met foelie en rooster in ’n lae 140 grade Celsius oond vir 6-8 ure. Loer af en toe om te sien of nog water nodig is. As hy so sag is hy val uitmekaar as jy vir hom kyk, gebruik twee vurke en pluis die knaap. Wat jy nie op dag een eet nie, kan jy vries in meer bilikke porsies en uithaal soos jy nodig het. As dit eers ontvries is het die vleis net ’n paar sekondes in die mikro nodig. Ek bedoel sekondes, want jy soek die vark net-net deurwarm, nié verder gekook nie.

Resep #1: ‘BBQ’
Gooi enige orige rooster vloeistof in ’n pot en kook tot daar net een koppie vloeistof oor is. Gooi ’n koppie winkel ‘barbeque’ sous of rokerige BBQ-sous by en roer deur. Voeg die gevlokte vark by en meng deur. Stapel hoog op rolletjies (ek is mal oor kitke-rolletjies hierby). Bo-op die vleis pak jy ’n stewige skep kraakvars slaai gemaak van fyn gekerfde rooikool, radys, seldery en gerasperde wortel wat jy ’n ligte olyfolie kus en ’n drukkie suurlemoen gee. Bedien met extra BBQ-sous vir die gulsiges.

Resep #2: Tex-Mex
Sny rooi uie, geel en rooi soetrissies in fyn lang repe en braai saam met ’n knoffelhuisie of twee in ’n stewige skoot olyfolie tot sag. Skep op ’n ‘wrap’, skep die vark bo-op, ’n stewige blerts suurroom, ’n knippie gerookte paprika, rooi rissie (opsioneel), ’n paar takkies koljander en vou hom toe. Guacamole hierby is ook heel gaaf.

Resep #3: Sjinees
Meng die vark met ’n winkel soet-suur sous. (Wellington’s maak ’n heerlike bekostigbare een.) Bedien met sprietuie, pynappel, rooi rissie, fyngekapte blaarslaai en koljanderblare op rolletjies, in ‘wraps’ toegevou, of in pita.

Resep #4: Vietnamees
As jy nog nooit jou mond aan ryspapier ‘wraps’ gesit het nie wag ’n groot bederf op jou. Kry ryspapier ‘wraps’ in enige spesialis winkel wat Oosterse bestanddele aanhou en selfs in sommige gewone supermarkte. Hulle’s kliphard amper soos glas, maar week hulle vir ’n paar sekondes in water (volg die aanwysings op die boks) en skielik is hulle sag en spierwit. Dreineer hulle en sit die volgende in die middel van die ryspapier: die vark, koljanderblare, sprietuie, rooi rissie, komkommer linte, geroosterde grondbone of kasjoeneute, en ingelegde gemmer (ook in die Oosterse afdeling van jou supermark). Vou toe en rol soos ’n sigaar. Bedien met ’n winkel soetrissie sous.

Resep #5: Grieks
Rooster pitabrood en stop hom vol met die vark, rooi ui, botter-blaarslaai en baba tamaties. ’n Onbeskofte groot skep tuisgemaakte tzaztiki bo-op en kos is op die tafel.

Partytjiekos
As jy skares gaan voer, maak stasies vir elk van die lande op jou tafel. Bedien die skouer heel in die middel en laat elkeen sy eie vleis uitsorteer. As jy die skouer heel gaan bedien gaan hy bietjie grimering nodig hê, bleekvaal op ’n bord is nie mooi nie. Tof die skouer op deur hom aan die einde van die rooster te verf met ’n mengsel van twee eetlepels growwe mosterd, twee eetlepels heuning en een eetlepel van die kook vloeistof. Draai jou oond se rooster hoog en rooster die skouer vir ’n paar minute totdat die verfsousie begin karameliseer en die skouer ’n effe kleurtjie optel.

bedien

20+

vooraf

10 min

rooster

6 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Vryfmengsels

As jy tevrede is om ’n hele varkskouer met dieselfde geur te rooster, probeer hierdie vryfmengsels. By 3E bruinsuiker en 2E sout voeg jy:

1) 2E gerookte paprika, 1E fyn komyn, 1E fyn koljander, ¼t rooipeper
2) 2E vinkelsade, grof gestamp of gemaal. ½t rissievlokkies (opsioneel)

scroll

lekker saam met

My keuse hierby is ’n groot gunsteling – Cluver & Jack se sider of appelwyn. Hierdie’s sider met ‘klaas’ mense. Cluver & Jack word gemaak van top-kwaliteit 100% suiwer sap komende van handgeplukte Elgin appels. Dis die breinkind van wynmakers, Paul Cluver en Bruce Jack. Dis kraakvars op die tong, wonderlik verfrissend en gesofistikeerd.

Massa-geproduseerde kommersiële siders se Moses. Makro bied Cluver & Jack aanlyn te koop teen net duskant die R18 per bottel.

Cluver

scroll-main

Ook beskikbaar in: English