My vriendin – kom ons gebruik liefs haar bynaam, Eet-soos-’n-voëltjie – is ’n liewe mens. G’n guns is te groot nie, g’n vra ’n las nie. Buite is sy net so mooi soos binne, ’n Bo Derek 10. Gat jy saam met haar erens heen, smelt jy weg in die muurpapier. Ek dink dit spreek boekdele oor my dat ek bereid is om dit te doen. Dan sit ek onsigbaar daar en troos myself dat sy ten minste nie ’n uithaler kok is nie. Toe sy die foto van hierdie beskuit sien verloop die gesprek dus so:

SY: Ooo, dis soos like ’n harde brood?
EK: Nee, dis soos ‘like’ beskuit.
SY: Maar dis like hard nê?
EK: Nee, nog nie. Ek moet dit opsny en in die oond uitdroog. Maar jy’t dit natuurlik geweet.
SY (na ’n ongemaklike stilte): Erm. Ja?

As hierdie jou storie ook is, moenie sleg voel nie, maar probeer dit maak want beskuit bak is kinderspeletjies. Dis my ‘go-to’ weeksdag ontbyt. Ja, weliswaar nie die gesondste ding om te doen vir ontbyt nie, maar beskuit is handig as jy haastig is. Jy weet mos, vir daai oggende wanneer jy klaar een voet by die deur uit het terwyl jy nog grimeer. Ek het my basiese karringmelk beskuit resep hier aangepas en ’n swetterjoel onbyterige goed bygegooi – All Bran, hawermout, sonneblomsaad, sultanas en meer. Hierdie beskuit droog hard uit en het hope knars, perfek vir ’n lang doop in oggendkoffie. Ek noem dit Ontbyt Beskuit.

Al wat jy nodig het is…

8 koppies bruismeel
6 koppies All Bran
6 koppies hawermout (‘rolled oats’ kry dit in jou supermark se gesondheidskos afdeling)
2 koppies bruinsuiker
2½t sout
1 koppie sultanas
1 koppie gedroogde bosbessies (cranberries)
1 koppie sonneblomsaad
1 koppie droë klapper
2 groot eiers
2 x 500g kartonne karringmelk
360g botter of bakmargarien soos Stork, gesmelt (ek wys dit in gram want dis veel makliker as om die lot in ‘n koppie te probeer stop!)

Kombineer al die droë bestanddele in ’n groot mengbak. Klits die eiers en karringmelk saam en voeg by die droë bestanddele. Voeg die gesmelte botter by en meng goed deur. In die stadium werk hande beste! Verdeel deeg tussen twee groot gesmeerde broodpanne en bak teen 170 grade Celsius tot deurgebak. Toets hom soos ’n koek, steek ’n klein skerp messie of sosatiestokkie in. As hy skoon uitkom, is hy reg. Laat afkoel en sny dan in dik skywe. Sny elke skyf in drie tot vier stukke beskuit. Pak in ’n enkellaag op bakplate en droog uit in 80-90 grade Celsius oond. Dit vat ’n hele paar ure. Bewaar in lugdigte houers.

maak

80

bak

1.5-2 ure

droog

4-5 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English