Ek’s met egskeiding gedreig hier aan die einde van laas jaar, nie net een keer nie maar sommer 25 keer. Want sien ek het meer mans lesers as wat ek besef het. En met die dat ek hier oor die feesseisoen vreeslik met die soetgoed resepte doenig was het hulle nie gedink ek’s snaaks nie. Ek erken ek’t lanklaas ’n kollosale stuk vleis gemaak. So hierdie resep is spesiaal vir al my mans lesers, maar veral vir die 25 wat geskryf het om te kla oor al die soettand goed. Jy kan hierdie bees in die oond rooster of in jou Weber, solank jy net die indirekte metode gebruik met die kole in mandjies langs die vleis en nie onder nie. Geniet!

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE MARINADE
¾ koppie sesamsaad
½ koppie gewone olie
½ koppie donker sojasous
3 heel knoffelhuisies, gekneus sodat die skilletjies oop is
1 opgehoopte eetlepel bruin suiker
sap van een suurlemoen
1E rooiwyn asyn
1 medium ui, rof gekap
3cm stuk gemmer, in die helfte gesny
1 groenrissie, met die lengte langs in die helfte gesny
3 heel steranys
VIR DIE VLEIS
1,5-2kg rooster beesvleis (‘topside’ of ‘silverside’)
3E kookolie
2 groot wortels
1 groot ui
2E mielieblom

Rooster die sesamsade in ’n droë pan tot goudkleurig. Hulle’s reg sodra jy hulle kan ruik. Gooi die sade in ’n groot bak saam met al die ander marinade bestandele. Sit die beesvleis in die marinade, bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas vir ten minste agt ure, of oornag. Draai die vleis ’n paar keer sodat die hele snit met die marinade kennis maak.

Skil en sny die ui en die wortels in kwarte. Plaas hulle in ’n roosterskottel saam met twee eetlepels water. Verwyder die vleis uit die yskas en druk dit effe droog met kombuispapier. Gooi 3E olie in ’n baie warm dikbodem pan en verbruin die beesvleis alkant. Verwyder en plaas bo op die groente. Skep ‘n paar lepels van die marinade bo oor. Rooster (sonder ’n deksel) teen 200 grade Celsius. Ek rooster my beesvleis ‘rare’, wat beteken hy’s reg as die temperatuur binne die dikste deel van die vleis 50 grade Celsius bereik. Soos dit rus sal dit aanhou kook en die interne temperatuur sal verder styg. Vir ‘medium rare’ is ’n interne temperatuur van 55 grade Celsius perfek. ‘Topside’ en ‘silverside’ het ’n wonderlike diep beessmaak, maar jy soek hom nie taai nie. Dus is enigiets meer as ‘medium rare’ vir hierdie snitte nie gewens nie. Bedek die vleis met foelie en laat dit vir ten minste 15 minute eenkant rus.

Maak intussen die sous. Nou voor julle almal vir my skryf oor hoe dít nie gedoen word nie, ja, ek gebruik mielieblom (Maizena) vir my sous. Hierdie resep put sy inspirasie uit die Ooste waar veral die Sjinese lekker woeker met mielieblom vir dinge dik maak. So hoekom dan nie nou ek ook nie?

Sit eenvoudig die roosterskottel op jou stoof. Voeg bietjie water by – hoeveel jy bysit hang af van hoeveel vloeistof reeds in die skottel is – as daar heelwat is, is dit nie nodig om ekstra by te voeg nie. Voeg ook 2-3 eetlepels van die oorskiet marinade by. Kook dit vinnig en roer om al daai lieflike bruin stukkies van die bodem van die skottel los te maak. Verdik die vloeistof in die skottel deur die mielieblom (opgelos in 2E water) by te roer. Kook dit oor ’n lae hitte vir ’n minuut of wat sodat die mielieblom kan uitkook en die sous kan verdik. Ek’s mal oor broccoli by bees en dink daais met die lang steeltjies (sogenaamde ‘tenderstem broccoli’) is wonderlik hierby. As jy stysel hierby soek, hou dit eenvoudig met baba aartappels in hulle skilletjies gekook. Plein Oosterse noedels werk ook.

bedien

10

marineer

8 ure

rooster

60-90 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English