Die kuberruimte is ’n gevaarlike plek. Ek kan aan min ander dinge dink wat so ’n vals gevoel van privaatheid skep. Dis tog net jy in jou nagklere, koppie rooibos in die hand agter jou rekenaar. Wat jy sê is net tussen jou en die kat op jou skoot. Dis inderdaad hoe dit is. Tot jy daai knoppie druk was sê ‘publish’. Dán’s die duiwel los.

Met die dat ek weet hoe dinge wat mens aanlyn kwytraak kan omdraai en jou op die boud byt – half soos Merlot hier vieruur in die nag vir kos – het ek ’n allemintige lys reëls vir aanlyn skryf. Dinge soos: 1) G’n seks. 2) G’n godsdiens. 3) G’n vloekery. 4) G’n negatiwiteit. 5) G’n politiekery.

#BringBackNene. #PayBackTheMoney. #ZumaMustFall. RFN. #EnoughIsEnough.

Oeps. Het ek so pas twee van my reëls oortree? Lyk so. Terwyl ek dus die duiwel op my skouer het, laat ek sommer my grootste reël oortree. Reël SES: Moet nooit, ooit, nimmer as te nooit ooit met groot supermarkgroepe sukkel nie.

Maar ai jenetjie, soms soebat hulle tog so daarvoor. Soos die ander dag toe ek in my gunsteling Winkel Sonder Naam snuffel en ’n reuse bottel karamel-springmielies gewaar. Tog te prettig oulik, nogal met ’n fraaie Franse lint. My dood.

Ek loer na die prys. – R199. Julle flous my nie, dis net R1 (oftewel 0,065 Amerikaanse sent – dankie JZ) minder as R200. Sjoe, dis darem baie vir springmielies. Die outydse soort wat jy in ’n pot maak met ’n blerts olie kos tog net R10. Kannie die Franse lint wees nie. Dié tel ek vir net R1.25 per halwe meter op. So die koste sit seker in die massiewe bottel. Moet ’n ton weeg. Ek tel hom op. Haikôna, hy’s veerlig. Gemaak van plastiek so dun hy gaan ‘buckle’ as ’n skoenlapper op hom land. R200? Ag nee wat Winkel Sonder Naam, dis bietjie dik vir ’n daalder.

As jy dink springmielies is ’n gawe Kersgeskenk, gaan liefs Mr Price toe. Koop ’n fraaie properse glasbottel wat iemand nie sal omgee om te kry nie. En maak hom vol met hierdie karamel-springmielie bolle. Dis spotgoedkoop en belaglik maklik. Sjoe. Drie reëls oortree in een dag. Hier kom moeilikheid.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie ongekookte springmielies
2E kookolie
sout (Maldon is perfek hiervoor)
2 koppies donker bruinsuiker (ek het Selati se demerara gebruik)
1 koppie witsuiker
¾ koppie goue stroop
1t vanielje-essens
1t asyn
½ koppie water
2E gesmelte botter
Toebehore: kwas, outydse tipe ronde roomyslepel

Verhit die olie in ’n groot dikbodempot, voeg die springmielies by, sit die deksel op en laat hulle ‘pop’. Skud die pot ’n paar keer gedurende die kokery om te verhoed dat die mielies brand. Verwyder, strooi sout oor en hou springmielies warm in ’n groot bak in jou lou oond (daar’s ’n rede hiervoor).

Maak die karamel deur die res van die bestanddele (behalwe die botter) oor medium hitte te kook tot die stroop begin verdik en ‘hard crack’ stadium bereik. Dit beteken as jy daarvan in ’n bakkie yswater drup set dit dadelik kliphard en bros (in plaas van toffierig). Kook dit vir vyf minute en begin dan toets. Sodra die karamel reg is, gooi die lot oor die springmielies en roer dadelik goed sodat al die springmielies bedek is. (As jou bak koud is, loop set die karamel so te sê dadelik op die bodem van die bak. Met die dat die mielies en die bak warm is, het jy meer tyd om die mengery gedoen te kry en jou bolle gevorm te kry.)

Om bolle te vorm, verf jou roomyslepel met gesmelte botter en gebruik dit om die springmielies te skep. Die ronde onderkant van die lepel vorm ’n perfekte bol. Druk die bokant effe rond met die holte van jou hand en siedaar. Laat die bolle heeltemal afkoel op waspapier en sit hulle dan in ’n bottel of enige ander lugdigte houer. Jy kan hierdie tot ’n week voor die tyd maak.

WENK: Vir parmantige rissiebyt, strooi bietjie rissiepoeier oor die springmielies. Gerookte Spaanse paprika werk ook goed. En natuurlik kan jy gesoute grondbone rofweg kap en by die mielies voeg vir ’n ekstra spesiale bederf.

maak

16 groot

kook

‘hard crack’

vorm

5 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English