Wys my enigiets kleins en my hart vermurwe. Baba hondjies met vet pensies en nat snoete. Katjies so nuut hulle lyk meer muis as kat. Kwarteleiers. Daai klein baba appels. Met die uitsondering van my bankbalans en my bed, is kleiner vir my so te sê altyd beter.
Laas Vrydag gewaar ek baba rooi uie by Woolies. Tog te skattig wink hulle vir my. Rooi uie is dikwels belaglik duur. Teen net R16,99 het ek geen keuse nie – hulle beland in my mandjie. By die huis rooster ek hulle saam met botterskorsie wat ek behoorlik met harissa beetkry. Ek tuimel die geroosterde groente op ’n groot bord met baba (vanselfsprekend) botterslaai, mikro-blare, feta en pampoensade. Om lafenis vir die rissie-hitte van die harissa te bied sit ek hierdie slaai voor met ’n vars komkommer-ment slaaisous. Hierdie slaai is gesond verby. Gelukkig is dit lekker ook.
Al wat jy nodig het is…
olyfolie
1 groot botterskorsie
2E droë Harissa mengsel (loer by Woolies vir hulle ‘Harissa Blend’)
12 klein rooi uie (or 5 groot)
1E sagte donker bruinsuiker
seesout (ek verkies Maldon)
pakkie baba botterslaai-blare
pakkie mikro-blare (Pick ’n Pay se Asian Mix micro greens met koljander in werk goed hierby)
2 stukke feta (150g)
pampoensade
5cm Engelse komkommer
klein houertjie laevet of vetvrye gewone joghurt
8 mentblare
¼t knoffel
Voorverhit jou oond tot 220 grade Celsius met ’n kleefvrye bakplaat klaar in die oond. Sny die botterskorsie in 8 skywe. Ek sny dit met die lengte langs want dis vir my mooier. Ek hou ook die skil aan want 1) dit help die botterskorsie om nie uitmekaar te val as dit rooster nie en 2) ek eet die skil. As dit jou met afgryse vul, skil die knaap eenvoudig.
Gee die botterskorsie ’n liberale skeut olyfolie, ’n baie stewige knip sout en sprinkel die harissa oor. (Ek verkies droë harissa vir hierdie resep, maar jy kan ook enige harissa pasta gebruik. Maak net seker dit het ’n behoorlike rissie-skop. Indien nie, sprinkel rissievlokkies ook oor.) Tuimel die botterskorsie op die warm baklaat en rooster tot sag en gekarameliseer. Hoe lank dit vat hang af van hoe dik jou skywe is, maar reken op so 25-30 minute.
Omdat die uie so klein is rooster hulle baie vinniger, dus sit ek hulle net so vir die laaste 15 minute in. Sny hulle eenvoudig in die helfte deur (hou die wortel aan, dit help dat hulle nie uitmekaar val nie), en gee hulle ’n skoot olyfolie, ’n knip sout en strooi die suiker oor. Meng goed deur. Skep op die bakplaat – as die een met die botterskorsie te vol is, gebruik ’n tweede bakplaat.
Maak die slaaisous terwyl die groente rooster. Sny die komkommer in die helfte met die lengte langs en skraap die saad uit met ’n teelepel. Sny die komkommer rofweg en gooi die stukke in jou voedselverwerker saam met die joghurt, knoffel, knippie sout en ment. Blits tot glad en romerig. Bedek en sit in die yskas tot jy dit gebruik.
Om op te dien, tuimel die baba botterslaai op ’n groot bord saam met die geroosterde groente. Krummel feta oor, die pampoensade en die mikro-blare. Bedien met die joghurtsous in ’n klein bakkie sodat almal self kan help. Jy kan die geroosterde groente laat afkoel tot kamertemperatuur, maar ek hou daarvan effe warm. Die kontras van die warm groente teen die koel slaaisous is lieflik. Ek eet hierdie slaai op sy eie as vegetariese hoofmaal, maar dis ook perfekte braai bykos, veral saam met ’n lamtjoppie.
bedien
6
vooraf
20 min
rooster
30 min
goed om te weet
Nog idees vir hierdie slaai
Ek’s mal oor botterskorsie by tamatie – dink botterskorsie-ravioli in ‘n ryk romerige tamatiesous. Hmmm. Dus rooster ek soms baba tamaties en voeg hulle so op hulle takkie by hierdie slaai.
As jy nie harissa kan kry of nie wil koop nie, meng sommer bietjie fyn komyn, koljander en rooirissievlokkies en gebruik dit in plaas van die harissa.
lekker saam met
Daar’s heelwat wyne wat hierdie slaai sal komplimenteer, maar my keuse hierby is die somervars 2015 Chenin Blanc van Babylonstoren. Dit het lieflike tropiese note, bietjie koejawel en ‘n titsel appelkoos, ‘n misleidend gesofistikeerde nommertjie met heelwat diepte.
Met daai spekvet voël op die bottel dink Merlot ook dis heel gaaf.
Los 'n Boodskap