Name vol beloftes soos ‘Sex on the beach’ nieteenstaande, is ek nie veel van ’n skemerkelkie pop nie. Om die waarheid te sê is my kennis van skemerkelkies en hulle harde hout bestanddele op dieselfde vlak as No. 1 se kennis van belansstate en begrotings wat klop. Indrukwekkend vir al die verkeerde redes.

Tot onlangs toe aldus, toe ’n wonderlike kans om ’n projek in hierdie geweste te takel aan my deur kom klop. Blitsvinnig moes ek leer van hardehout, en jene het ek.

Van rum, wat blykbaar nie net rum is nie, maar jou die keuse bied van wit, donker, goud en ‘spiced’. Van tequila waar jy kan kies uit ‘reposado’, ‘anejo’, wit of silver, goud en gegeur. En van whisky wat gemaak kan word van mout of graan. Wat ‘single’ of ‘blended’ is, en die vermenging kan of net mout wees, of net graan of altwee. En dan’s daar Bourbon, wat Amerikaanse whisky is maar wat hulle, soos die Iere, met ’n ‘e’ spel – soos in ‘whiskey’. Kan jy nou meer.

As deel van my opswot verken ek die wêreld van skemerkelkies… en ontdek ek’t vir jare die kat aan die stert beet. Want sien, skemerkelkies hoef nie suikersoete/romerige/klewerige nommers te wees nie. Nee. ’n Behoorlike skemerkelkie is iets met balans en kompleksiteit. Verfrissend en gesofistikeerd. Dink James Bond se martini. Of Scarlet O’Hara se ‘mint julep’. Nou praat jy mos.

Hierdie ‘whiskey sour’ (gespel met ’n ‘e’ want jy gebruik Bourbon) is in daai klas. Klassiek, eenvoudig, elegant en… duiwels lekker. Whisky of whiskey is eintlik glad nie my ding nie, maar met hiérdie kelkie sukkel ek om te wag tot skemer.

Al wat jy nodig het is…

PER PERSOON
3E Bourbon Amerikaanse whiskey (ek’t Jim Beam gebruik)
6E vars suurlemoensap (of 3E suurlemoen- en 3E lemmetjiesap)
2t suiker
6 ysblokkies
maraschino-kersies, vir bedien

Gooi die suurlemoen deur ’n teesiffie om enige pitte te verwyder. Sit die sap, Bourbon en suiker in ’n skemerkelkie mengfles en roer tot die suiker opgelos is. Voeg die ys by, sit die deksel op en skud dit goed vir ’n minuut. Skink, versier met kersies en bedien dadelik.

WENK: As jy nie ’n skemerkelkie mengfles het nie en nie een wil koop nie is dit nie die einde van die wêreld nie. Sit eenvoudig die bestanddele in ’n sterk glasbottel, skroef dit toe en skud lustig. Skink net versigtig sodat enige ongesmelte ys in die bottel agterbly.

maak

1

vooraf

3 min

skud

1 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English