’n Bekommerde leser kontak my so paar dae terug en vra hoekom sy nie laasweek van my gehoor het nie. Die antwoord is eenvoudig: ek sittie lipstif op ’n vark nie.
Sien soos enige ander kok het ek my af dae in die kombuis. Selfs beproefde resepte wat ek al jare maak kan flop, soveel te meer as ek met nuwe resepte vorendag probeer kom. Ek weet die ‘touchy feely’ moderne manier is om vir iemand wat ’n F gekry het ’n goue sterretjie te gee, want nou-nou kry hulle selfbeeld permanent skade.
In my wêreld werk dinge anders – robbies is robbies. So is ’n resep nie lekker genoeg of ’n kiekie nie oulik genoeg nie, verf ek hom nie met lipstif en gooi hom op my webwerf nie. Nee, ek gooi hom in die asblik en ek begin oor.
Soos laasweek toe Hartlief ’n mandjie van hulle produkte vir my stuur om mee te speel. My Hartlief kabanossi souttert was ’n ‘epic fail’, my Hartlief plaasham poging nie veel beter nie. Lipstif. Vark.
Ek’t half desperaat begin voel want die tyd was min en die Hartlief mandjie amper leeg. Toe tref inspirasie my met ’n pakkie van hulle gerookte beesvleis. Dit mag gerook sê, maar die geur is wonderlik subtiel. Ek reken dit sal heerlik wees saam met ’n sagte kaas soos Brie of Camembert en sal baat by ’n paar neute ook.
Toe maak ek pizza deeg en stop dit vol geroosterde gekapte okkerneute. Pizza puriste ril seker, ek dink dis heel gaaf. Ek pak onbeskofte dik skywe Brie op en bak dit net lank genoeg vir die kaas om te begin smelt. Ek belaai die spulletjie met gerookte bees en uiteindelik mikro slaaiblare wat ek net-net skrikmaak met ‘n okkerneutolie vinaigrette en uiteindelik is ek tevrede. Hier’s hy: okkerneut-pizza met gerookte bees en Brie.
Al wat jy nodig het is…
2 koppies wit broodmeel (ek’t ongebleikte meel van Eureka Mills gebruik)
2 koppies bruin broodmeel (of vervang met wit)
2 x 10g pakkies droë gis
1t sout
½ koppie okkerneute
1¼ koppies louwarm water
¼ koppie louwarm melk
2E heuning
1E olyfolie
seesout en growwe swartpeper
2 pakkies Hartlief gerookte beesvleis
2 blokke Brie
Bottel rooibosbessie-jellie (cranberry)
Mikro-slaaiblare
2t okkerneutolie
1t olyfolie
2t rooiwynasyn
Gooi die neute in ’n droë pan en rooster hulle net tot jy hulle begin ruik. Verwyder en kap hulle fyn.
Gooi die droë bestanddele in ’n groot mengbak (moenie die sout op die gis gooi nie). Meng die heuning met die water en melk en voeg dit en die olyfolie by die droë bestanddele. Meng goed saam – ek vind hande doen dit die beste. Tuimel deeg uit op ’n werksoppervlak wat lig met meel bestrooi is , gooi die neute oor en vou hulle in en knie dan die deeg vir tien minute. Sit deeg in ’n diep skoon bak wat liggies met olyfolie geverf is, maak die bak goed toe met kleefplastiek en sit dit eenkant om te rys vir ’n uur.
Voorverhit intussen jou oond tot 240 grade Celsius met twee bakplate reeds in die oond. Maak ook solank die vinaigrette deur die olies en asyn saam te klits met ’n knippie sout en peper.
As die deeg klaar gerys is, slaan dit plat, vorm die deeg in ’n dikkerige wors en verdeel in vier. Vorm vier deegbolletjies en druk hulle liggies plat met die hand. Rol hulle dan verder uit met ’n koekroller. Hoe dunner jy hulle maak, hoe brosser is hulle. Ek verkies hulle so 1cm dik. Verf die bakplate met bietjie olyfolie en gooi die pizzas op. Verf hulle ook met olie en gee hulle ’n blerts seesout en swartpeper. Bak hulle tot goudbruin en deurgaar– sowat 10 minute. Verwyder en pak met dik skywe brie, skep ’n paar dotjies rooibosbessie-jellie op en sit dit terug in die oond tot dit net-net begin smelt. Brie is ’n sensitiewe knaap, dit vat net ’n paar sekondes so hou dit met valkoë dop.
Sodra die kaas begin smelt, verwyder die pizzas en sit die gerookte bees op. Volgende aan die beurt is die mikro-blare natgemaak met die okkerneut-olie vinaigrette. ’n Laaste paar neute en hy’s reg. Bedien dadelik terwyl warm.
maak
4
rys
1 uur
bak
10-12 min
goed om te weet
Hartlief
Met meer as 70 jaar se ondervinding kén die ouens van Hartlief in Namibië van vleis. Die Hartlief reeks is enorm en sluit salamie, hamme, ander koue vleis, worse en smere in. Hulle’s te vinde in meeste groot supermarkte in SA.
lekker saam met
’n Lieflike koue Chardonnay sal werk, so ook ’n Chenin. Maar my keuse hierby is ’n droë pienke – Arabella se Pink Pancea rosé. Dis in die onlange Rosé Rocks wedstryd aangewys as een van ons top tien rosé wyne.
Pink Panacea is ’n fraaie kersiepienk in kleur en provol perske en spanspek geure. Teen onder R50 per bottel is dit een van my somer 2015 gunstelinge!
Los 'n Boodskap