As kind was ouma se ‘skuimpie’ blik nooit leeg nie. En sy was nie lelik oor hoeveel ek gevat het nie. Dis tog mos net eierwit en suiker. ‘Fast forward’ donkiejare later en meringue is steeds in my top drie gunstelinge vir ’n maksimum-impak/minimum-moeite poeding. Snaaks hoe eenvoudige goed mense uitermatig kan beïndruk.
As dit kom by moeiteloos is daar min dinge wat kers vashou by Franse meringue. Ek noem dit nie ‘Frans’ om fênsie te wees nie. Nee, dis om dit te onderskei van die effe meer gekompliseerde Switserse en Italiaanse weergawes.
Op sy heel eenvoudigste is Franse meringue net eierwit en suiker. Ouma het altyd kremetart bygesit maar nooit verduidelik hoekom nie. Vandag weet ek dis oor die suur van kremetart help om die eier te stabiliseer. Sommige mense gebruik eerder asyn, en party gee dit ’n lepel mielieblom ook.
Franse meringue word net geklop en dan gebak. Switserse meringue word oor hitte geklop en die Italiaanse een benodig ’n warm suikerstroop. Vir die bang kok is die Franse knaap die een om jou voete mee nat te maak.
Volg hierdie paar eenvoudige reëls en dis nie juis moontlik om dit op te dons nie.
1) Vet is meringue se vyand, so maak seker jou bak en klitser is super skoon. Gebruik ’n staal- of glasbak in plaas van plastiek.
2) Eiergeel is die duiwel. As jy jou eiers skei en eiergeel in kry begin maar oor. Ons almal breek eiers af en toe. Skei dus elke eier in ’n aparte bakkie voor jy die eierwitte in jou groot bak gooi. Kry jy ’n ongelukkie is die skade dus nie te groot nie.
3) Maak seker die eiers is kamertemperatuur.
4) Bak hulle in ’n baie lae oond. Is jou oond te hoog, word die meringue bruin. Jy soek hom wit of roomkleurig. Maak nie saak hoe oulik jou nuwe oond se ‘thermo fan’ is nie, dis meringue se dood. Dink aan lug wat vinnig beweeg oor wat basies eierige skuim is en jy kan sien daar kom moeilikheid.
5) Meringue en humiditeit is nie die grootse pêlle nie. Donder en blits dit woes moet jy miskien liefs wag vir môre.
Al wat jy nodig het is…
3 eierwitte (jumbo eiers)
1 koppie strooisuiker
¼t kremetart
Meringue kleef aan bakplate soos verlangse familie aan Lotto wenners. Voer ’n bakplaat met bakpapier (ek vind die een wat jy was en hergebruik werk beste). Om ekstra seker te maak spuit ek hom met Spray ’n Cook en sif hom liggies met bietjie mielieblom.
Klits die eier en kremetart tot dit lig en wit skuim en sagtepunt stadium bereik – m.a.w. die punte val oor as jy die klitser lig. Voeg nou die strooisuiker ’n lepel op ’n slag by terwyl jy aanhou klits. Sodra die suiker opgelos is (vryf bietjie tussen jou vingers om te voel) is dit reg. Die meringue sal dik, spierwit en blink wees. As jy onseker voel, lig die bak en keer dit versigtig om. As die eierwit vasklou en nie beweeg nie, is hy definitief reg.
Skep lepelsvol meringue vir klein skuimpies of maak een groot meringue sirkel. Hoe groter, hoe langer gaan dit vat om te bak. Plaas in ’n 90 grade Celsius oond. Jy kan dit aanhou bak tot dit bros regdeur is, of dit effe minder bak en ’n effense sagte malvalekker tekstuur in die middel het. Laat die meringue afkoel in die oond met die deur toe. Stoor in ’n lugdigte houer tot jy dit gebruik.
maak
30 klein
vooraf
10 min
kook
120 min
ek is op soek na hemelse Lemon meringue. Dis al waaraan Ed kan dink. Moet menopika wees!!!
Hi Elmarie, ek het een wat my ouma altyd gemaak het. Of dit nou hemels is weet ek nie! Ek sal dit maak hierdie naweek en as dit engele gaan laat sing, stuur ek dit aan. Groete, Lizet
Hi, het jy dalk ‘n lekker resep wat mens nou kan maak met die orige eiergele? Het reeds nou die dag ook ‘n muffin resep probeer wat basies die eierwitte gebruik as reis middel, dan sit mens met ‘n hele klompie eiergele wat mens net nie wil mors nie!
Met tonne eiergeel is béarnaise sous ‘n moet. Dit klink ingewikkeld maar dis maklik en absoluut fenomenaal met bees, springbok, koedoe of volstruis steak. Loer na my lam met béarnaisse resep onder my resep indeks. Onthou net, hou jou hitte BAIE laag en klits verwoed. Fluweelgladde hemel is waarmee jy opeindig. Jou ander keuse is natuurlik ordentlike mayonnaise of aiolie. So, noudat jy gevra het maak ek dit hierdie naweek en gooi volgende week op my webwerf. Groete, Lizet en Merlot.
kan ek dieselfde meringue oor n sagopoeding of n suurlemoen meringue tert sit wat gewoonlik platval soek n resep wat mooi uitpof en so bly.
Hi Heleen, jy kan dit verseker doen! Ek verkies eintlik om my sagopoeding met die Italiaanse meringue te bedek want dit lyk eenvoudig pofferig mooier. Ouma sou seker gefrons het, maar daar het jy dit.
Hi Lizet, dit foto lyk skoon mals en sal nie hier langer as vyf minute hou nie, dalk minder. Ek is ‘n ‘unconrolled’ diabeet of ‘n Liewe Heksie diabeet. Soos Liewe Heksie gekies het wanneer sy wil verjaar, kies ek wanneer ek diabeties is. Groot vraag, kan ek die suiker in die resep vervang met Xylitol? Het eers ‘n week of twee terug ontdek dat Xylitol eintlik lekker smaak. Ek is ‘n Totale suikerverslaafde en soos Merlot dink sy mag net biefstuk eet, dink ek ek moet net suiker eet. Help, en as jy nie kan nie, enige iemand anders wat weet van Xylitol. Het reeds my eie kondensmelk met Xylitol gemaak en vir iemand wat BAAAAIE fiemiesrig is oor ‘n nasmaak van plaasvervangers van suikers, was dit besonders lekker. Dankie.
Hi Rencey, ek is seker met die smaak sal daar niks fout wees nie. Stywe eierwitte wat suiker bykry se tekstuur verander mos heeltemal, dit word glansend dik sodat dit sy vorm behou as jy hom bak. Ek het nog nooit dit met Xylitol probeer nie, maar ek kan nie sien hoekom dit nie sal werk nie. Wat ek wel sal voorstel is dat jy die mengsel effe meer probeer stabiliseer – sit ‘n klein knip sout en knip kremetart (cream of tartar) by asook ‘n eetlepel mielielblom (maizena). Ek sou ook aanbeveel jou oond baie koel bly, niks warmer as 80 grade nie. Laat weet hoe dit uitwerk!