As dit by trooskos kom, is daar min dinge wat beter troos as pastei. My vriende is altyd beïndruk wanneer ek se ek máák pastei. Want sien, hulle dink dis moeilik. Hulle dink dis moeite. En koop dus maar eerder winkelpastei – flou poginkies met jellierige sous en nie juis vleis om van te praat nie. Nee wat, dis nie pastei nie. PASTEI is iets met ryk deeg wat smelt in die mond en ’n hele bees of hoender se vleis. En dis so bitter maklik om self te maak.
Al wat jy nodig het is…
500g ontbeende skenkel ‘beef shin’, in blokkies gesny
3E sonneblomolie
2 groot salotte, fyngekap (jy kan dit vervang met gewone ui)
2E koekmeel
1 blokkie beesaftreksel (as jy uitspattig voel, gebruik Nomu se Beef Fond)
1½ koppies water
¼t growwe swartpeper
1 takkie tiemie
300g skaapniere
Blaardeeg (ek gebruik slegs Woolies se All Butter Puff Pastry)
1 eier, geklits
Die skenkel moet vir ’n redelike ruk kook, so ek begin daarmee en voeg eers later die niertjies by, want niere wat doodgekook is, is ’n lelike ding. Verhit ’n dikbodempan tot baie warm, voeg die olie by en braai die blokkies vleis tot goed bruin alkant.
Verwyder die vleis, draai die hitte laer en gooi die salotte in die pan. Braai hulle tot sag, roer goed sodat die salotte al daardie wonderlike bruin stukkies van die bodem van die pan lig. Voeg die beesvleis terug in die pan en strooi die meel oor. Roer goed deur en braai vir ’n minuut. Voeg nou die water, beesaftreksel, tiemie en peper by. Kook al roerend vir ’n minuut of wat totdat die meel die vloeistof in die pan begin verdik. Bedek en kook oor ’n lae hitte tot die skenkel sag is. As dit jong bees is, sal so 40 minute die ding doen.
Berei intussen die skaapniere. As jy nog nooit met niere gewerk het nie, moenie skrik nie, dis bitter maklik. Sny elke niertjie in die helfte deur met die lengte langs. Binne sal jy ’n vetterige knop sien met ’n membraan wat dit in die niere anker. Hiervan moet jy onstlae raak. Ek vind die maklikste manier om dit te doen is met ’n klein skerpneus skêrtjie. Trek eenvoudig die vetterige knop met een hand en knip dit uit saam met soveel van die membraan as wat jy kan. Deesdae is meeste niere reeds skoon buite, maar as die niere ’n dun melkerige vliesie aan die buitekant het, trek dit eenvoudig met jou vingers af.
Sodra die beesvleis sag is, is dit tyd vir die niertjies. Sny hulle in blokkies so groot soos jou beesvleis blokkies. Ek hou nie daarvan om hulle net so rou by die beesvleis te gooi nie. Ek verkies om hulle ekstra woema te gee deur hulle eers bruin te braai in bietjie olie. Jy wil hulle nie deurkook nie, net mooi kleur gee. Voeg hulle dan by die beesvleis, sit die lot in ’n oondvaste pasteibak en bedek met die deeg. Maak die pastei netjies deur die deeg al om die rand van die bak mooi vas te druk met jou vingers. Verf die deeg met die eier en maak dan ’n klein snytjie in die middel van die pastei sodat die stoom kan onstnap waneer dit bak. Sit die pastei in ’n 200 grade Celsius oond en bak vir 30-40 minute tot goudbruin. Bedien dadelik met ertjies en soetwortels. (Wenk: Jy kan die vleisvulsel die vorige dag reeds maak en die yskas sit. As jy moeg van die werk af by die huis kom, gooi jy eenvoudig die deeg oor en sit hom in die oond. Dit maak onthaal in die week nie net moontlik nie, maar ’n plesier!)
bedien
4
vooraf
20 min
kook
90 min
goed om te weet
Nog idees vir hierdie resep
As niertjies regtig nie jou ding is nie, vervang hulle met 600g sampioene. Braai hulle in botter tot goudbruin en voeg dan by die vleismengsel.
lekker saam met
By hierdie pastei soek ek rooiwyn. Nie een wat harde werk is nie. Nee, ek soek ‘n sagte, vrugtige wyn. Merlot is net die ding. Een van my sakpas gunstelinge is Perdeberg s’n.
Dis rond en sag soos fluweel met wonderlike rooibessie en spesery. Hierdie is nie ‘n ernstige wyn of ‘n pryswenner nie. Dis ‘n toeganklike elke-dag wyn en dit kos onder R50 ‘n bottel!
Los 'n Boodskap