Toe ZZ2 onlangs ’n pakkie geheime ‘goodies’ kom aflewer met die uitdaging om ’n unieke resep met ten minste twee van hulle produkte te maak, was ek dadelik bok, veral toe ek die tamaties sien. Min dinge is meer veelsydig as ’n tamatie. Gebruik dit as basis vir fênsie bone op brosbrood. Maak ’n blitsvinnige sop soos my rokerige tamatie een. Of meng dit met vars mozzarella en basiliekruid – ’n klassieke caprese – en tuimel dit op ’n pizza basis vir die gesondste pizza ooit. En dan is daar natuurlik een van my hartsdisse – tamatie bredie.
Tamatie bredie word van skaap gemaak en, op sy eenvoudigste, is dit net ’n 50/50 mengsel van skaapribbetjies en tamatie, plus sout, peper, suiker en aartappels. Ander resepte is meer gesofistikeerd en sluit allerhande speserye en kruie in, van naeltjies tot lourierblare en gemmer.
Die skaaplaai in my vrieskas bly nooit lank vol nie en daar was nie ’n rib in sig nie. Maar een laaitjie laer lê osstert vir my en loer. Toe dag ek waarom nie? In plaas van die skaap gebruik ek osstert, en ek verander die geurmiddels om dit Italiaanse houding te gee. Die aartappels van ’n gewone tamatie bredie vervang ek met gnocchi. Want wat is gnocchi dan nou eintlik anders as aartappels (met bietjie meel) in ’n grênd ronde bolletjie? Hier’s hy: Osstert tamatie bredie met gnocchi.
Belangrik: Jy kan ’n wonderlike boks ZZ2 groente en ’n R1 000 Checkers koepon wen. Besoek eenvoudig ZZ2 se Facebook blad en vertel hulle wat jy sal kook met twee of meer van die volgende bestanddele: uie, knoffel , vars tamaties, songedroogde tamaties, avokadopeer.
Al wat jy nodig het is…
Vir die tamatie bredie
1.2kg osstert
1kg ryp tamaties, geskil en gekap (sien goed om te weet hieronder)
3E sonneblomolie
1 ekstra groot wit of bruin ui, fyngekap
3 vet knoffelhuisies, in fyn skyfies gesny
3E koekmeel
1E suiker
1E tamatiepasta
2 lourierblare
1 takkie roosmaryn
2 takkies origanum
½ rooi rissie, ontpit en fyngekap
2t sout
¼t growwe swartpeper
¼ koppie water
Vir die gnocchi
½kg aartappels (die meelerige soort, wakserig werk nie)
175g koekmeel
1 eier
sout en peper na smaak
Verhit die olie in ’n dikbodempan en verbruin die osstert daarin. Jy wil hom alkant lekker bruin hê, so dit vat ’n rukkie. Verwyder die vleis en sit die uie in die pot. Braai uie vir vyf minute. Roer goed sodat al daai wonderlike bruingebrande stukkies van die bodem van die pan loskom. Sodra die uie sag is, voeg die knoffel en tamatiepasta by en braai vir twee minute. Voeg die vleis terug en strooi die meel oor. Roer goed deur en kook vir nog ’n minuut. Voeg nou die tamaties, suiker, rissie, sout, peper en kruie by sowel as die water.
Bedek en draai die plaat af na die laagste hitte moontlik. As jou plaat laag genoeg is, behoort jy nie nog water nodig te hê nie, maar loer af en toe. Kook tot die vleis van die been afval. Dit vat so 3-4 ure. Jy kannie dink jy’s slim en die spul in ’n drukkoker gooi nie. Die tekstuur, kleur en smaak sal eenvoudig nie dieselfde wees nie. Wees liefs geduldig. Maak ’n goeie bottel wyn oop, sit terug en dink hoe ‘fabulous’ jy is.
Jy kan winkel-gnocchi gebruik. Die soort wat in die yskas gehou moet word is heel skaflik. Maar die een wat op die rak langs die droë pasta is, het vir my ’n bitter eienaardige chemiese ondertoon waarvan ek niks hou nie. Maak jou eie, dis so maklik. Skil en kook eenvoudig die aartappels in gesoute water tot sag. Dreineer en droog die aartappels goed af. Druk fyn om kapokaartappels te kry. Gooi die meel en eier by, asook sout en peper na smaak. Meng goed. Rol die mengsel in ’n lang dun wors van so 1cm in deursnit. Sny in blokkies van 2.5cm lank. Druk die middel van elke gnocchi met jou pinkie sodat die gnocchi omkrul. Kook klein bietjies op ’n slag in goed gesoute water vir 3-5 minute – hulle’s gekook as hulle bo dryf. Verwyder en plaas in ’n goed gebotterde bak. Hou warm tot jy dit bedien. Dis so maklik, maar as jy nie kans sien vir die gnocchi nie, bedien hierdie bredie met stampmielies. Dis hoe ons osstert op die plaas geëet het en dis steeds een van my gunstelinge!
bedien
4-5
vooraf
25 min
kook
4 ure
goed om te weet
Hoe om tamaties te skil
Sit tamaties in ’n diep bak en gooi kookwater oor. Laat staan vir ’n minuut en dreineer. As die tamaties ryp genoeg is, sal die skilletjies nou maklik afglip.
lekker saam met
Gewoonlik kies ek wyne met ‘n redelike stewige suur struktuur om die suur van tamaties te komplimenteer. Maar met die lank and stadig kook word hierdie tamaties wonderlik soet. My keuse hierby is dus ‘n regte winterwyn – Jason’s Hill se 2012 Shiraz. Dis lig gehout en vrugtig met ‘n titsel tipiese Shiraz spesery en ‘n effense rokerigheid op die einde.
Hierdie wyn is ‘n Michelangelo Wine Awards goue wenner, asook ‘n Gold Wine Award wenner. Dis landwyd in winkels beskikbaar en by Jason’s Hill se kelder te kry vir net R55 ‘n bottel.
Ek is tog so bly dat jy ook praat van OSSTERT. In my grootwordhuis was hierdie snit se naam ook osstert, maar toe ek trou met my taalkundige man moes ek gedurig die vraag beantwoord: is dit net osse wat sterte het? So, toe praat ek ook maar van BEESSTERT ter wille van die huweliksvrede….
Hi Martha, ja in ons huis was dit verseker os. Ag wat, mans kan tog so letterlk wees ! :)