Sop is een van daai goed wat ek aljaar, heeljaar kan eet. Vir sop met skop is daar natuurlik min dinge wat by kerrie kom. Hierdie garnaal-en-noedelsop resep is so maklik, my kat kan dit maak. En dis propvol Thai rooikerrie skop.

Al wat jy nodig het is…

Vir die sop
1 blikkie klappermelk (400ml)
2 ½E rooikerrie pasta
1E borrie
1 sakkie visaftreksel (Woolies of Ina Paarman s’n is perfek)
400ml water
4t Thai vissous
1t donker sojasous
3 gedroogde lemmetjieblare (meeste groot supermarkte hou dit aan)
⅛t growwe swartpeper
½t bruinsuiker
16 garnale, derm uit en dop af (sien Goed Om Te Weet hieronder)
2E lemmetjiesap
Sjinese noedels, gekook volgens instruksies op pakkie

Vir bedien
sprietuie, fyn gesny
vars rooirissie, fyn gesny
koljanderblare
knoffel, in dun skyfies gesny en gebraai tot bruin
wiggies lemmetjie

Gooi ’n derde van die klappermelk in ’n pan en kook, al roerend, oor medium hitte tot die klappermelk begin skei. Roer die rooikerrie pasta by en kook vir ’n minuut op lae hitte. Roer die borrie in en kook vir ’n verdere minuut.

Voeg die res van die bestanddele by (behalwe die garnale, lemmetjiesap en noedels) sit die deksel op en kook vir 10 minute. Voeg die garnale by en kook tot net gaar (as hulle klein is, is 2 minute voldoende). Voeg heel op die einde die lemmetjiesap by.

Skep warm noedels op in sopborde en bedek met die garnale en sop. Kerrie is vir my ekstra spesiaal met baie ‘toppings’. Bedien hierdie sop dus met hope sprietuie, rissie, koljanderblare, gebraaide knoffel en ekstra lemmetjie en laat elkeen skep soos hy lus het.

bedien

3-4

vooraf

10 min

kook

20 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Hoe om garnale skoon te maak

Of jy hom nou met die dop aan of af kook, garnale het ‘n spysverteringskanaal waarvan jy ontslae moet raak. Dis bitter maklik.

Vat eenvoudig ‘n klein skerpunt skêr en druk dit in by die gaping tussen die kop en die lyf. Sny deur die dop al langs die garnaal se rug af. Jy sal die spysverteringskanaal maklik sien, dis so lang dun dermpie, soms gevul met lelike goed, soms leeg. Verwyder dit in elk geval deur dit uit te lig. Ek gebruik ‘n tandestokkie om dit te doen.

lekker saam met

Gewoonlik verkies ek iets met ‘n effense soet saam met enige kerrie-tipe dis. Maar hierdie sop het reeds ‘n soet ondertoon danksy die klappermelk, dus verkies ek iets varser. My keuse hierby is Four Cousins se Skinny White. Voorheen hulle Extra Light, is hierdie wyn nou in splinternuwe pret verpakking wat sê lig is nie ‘boring’ nie.

Nou gewoonlik het ek ‘n probleem met ‘ligte’ wyne want hulle’s dikwels sonder woema met bitter min wat op die tong gebeur. Dis nie die geval met Four Cousins se Skinny White nie. Met 60% van die wyn gemaak van Fernao Pires druiwe, het dit ‘n lieflike peer-spesery ondertoon. Met net 9.5% alkohol (teenoor die 13% van meetse witwyne) is hierdie ‘n gesonde laer-kiloujoule alternatief. Beste van als? Dit kos onder R40!

Four Cousins het ook hulle ligte rosé Skinny gedoop en ‘n Skinny rooi by die reeks gevoeg. So slim. Sit aan jou skinny jeans en gaan gryp ‘n bottle of twee Skinny.

four cousins

scroll-main

Ook beskikbaar in: English