Dit het begin met The Great British Bake Off, en nou plaaslik ons eie Koekedoor. Regoor die land word ‘piping bags’ wat jare lank in die agterste hoek van die onderste laai lê en muf het, uitgehaal en afgestof. Want sien BAK is die nuwe seksie.

Laas week was ek gelukkig genoeg om vir tee te gaan aansit by Martjie Malan, van Koekedoor-faam. Martjie bedryf die skattigste plekkie in Andringastraat in Stellenbosch, M Patisserie. Die geleentheid? Die bekendstelling van Parmalat se splinternuwe reeks roomkase: gewoon, gerookte salm en sprietuie.

Soos sy doen, het Martjie ’n hond uit ’n bos vir ons gebak met Parmalat se produkte. Maar voor ons weglê vertel sy ons eers van 2015 se bakmodes. Dink geometriese patrone op koek, roosgoud, enigiets wat skitter en blomme. Die een wat my aandag egter trek is eclairs. Dís nou rêrig 2015 se ‘in’ ding sê Martjie, en hy’s nie net soet nie, maar sout ook. Na te veel kalorieë is ek vort, met drie geure Parmalat roomkaas onder die arm en ’n onwelkome vae gedagte dat ek oppad huistoe by die gim moet inloer.

Terug by die huis (sonder die gim-stop) besluit ek Martjie se eclair idee is gaaf. Maar in plaas van gewone eclairs, besluit ek om ’n Paris Brest éclair krans te maak. (Kry my choux-deeg resep hier.) Ek stop my kransies propvol gerookte salm roomkaas wat ek ekstra parmantig maak met ’n draai swartpeper, suurlemoen en dille. ’n Paar komkommerlinte, fyn radys en repe salm en jy’t ’n fees. Die klein Paris Brest outjies is effe moeite. Volgende keer maak ek liefs ’n groot een en sit hom trots (op ’n koekstander met ’n Franse lint) in die middel van my ‘brunch’ tafel. As die choux storie na te veel moeite klink, gebruik hierdie vulsel op growwe saadbrood of donker rogbrood. Of op ’n geroosterde bagel vir ontbyt op ’n lui Sondagoggend.

Al wat jy nodig het is…

230g Parmalat salm roomkaas
½t growwe swartpeper
2E vars suurlemoensap
1E fyngekapte dille
80g gerookte salm
komkommer, in linte gesny met jou groenteskiller
radyse, fyn gesny
rooi uie of sprietuie, fyn gesny

Vir bedien
Brood van jou keuse of Paris Brest (kry resep hier). Let wel: As jy een groot Paris Brest maak, sal jy die roomkaas vulsel moet verdubbel.

Meng die roomkaas met die peper, suurlemoen en dille. Sny die Paris Brest in die helfte en vul met die roomkaas mengsel. (As jy die vulsel effe ligter en romeriger verkies, klits ‘n halwe koppie room tot styf en roer versigtig by die roomkaas mengsel.) Bedek met salm, komkommer, radyse en uie.

bedien

6-8

vooraf

20 min

kook

50 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Paris Brest

Paris Brest word gemaak met choux deeg en is ’n wielvormige Franse gebak wat in 1891 deur ’n bakker van Parys gemaak is om die Paris-Brest fietstoer te gedenk. Dink daaraan as ‘n eclair – op ‘steroids’.

parmalat roomkaas

Of jy dit gebruik in versiersel, quiche, kaaskoek of pasta, min dinge is meer veelsydig as roomkaas. Wat dink ek van Parmalat s’n? Wel, dis romerig, fluweelglad en propvol geur. Maar waarvan ek meeste hou is dat dit ‘n droom is om mee te werk want dit roer maklik. Parmalat s’n is Kosher en Halaal. En, hoewel hulle dit so pas vrygestel het, het hulle reeds pryse begin losslaan. Hulle gerookte salm een was ‘n wenner in die onlangse Qualité toekennings.

Parmalat

scroll-main

Ook beskikbaar in: English