Baie van julle het gevra, so hier is hy – ‘n kannie-flop basiese botterbroodjie resep, so eenvoudig my kat kan dit maak. Niks botter gevryf met die vingerpunte nie. Niks gemengery met houtlepels nie. Nee wat, ek gooi alles sommer in my voedselverwerker. In net tien minute is die lotjie gemeng, gerol, uitgedruk en in netjiese soldaat botterbroodjie rye op ’n bakplaat, reg vir die oond. Die bak vat ook net tien minute. ’n Leksel botter, aarbeikonfyt en ’n stoute skeppie room is al wat hulle vra. Dit, en natuurlik ’n koppie tee.
Al wat jy nodig het is…
2 koppies bruismeel (self-raising flour)
2E strooisuiker
klein knippie sout
derde koppie koue gesoute botter (80g), in klein blokkies gesny
¼ koppie melk
1 eier, geklits
eier/melkmengsel vir verf (1 eiers geklits met 3E melk)
Sit die meel, sout, suiker en botter in jou voedselverwerker en pols die mengsel tot dit soos broodkrummels lyk. Gooi die geklitse eier by en pols tot deurgemeng. Voeg die melk by en meng tot die deeg bymekaar kom. (Jy sal aanvanklik dink dit lyk hopeloos te droog en krummelrig, maar moenie toegee aan die kombuisduiwel en nog vloeistof bygooi nie. Die lotjie kom tog op die ou end bymekaar. Belowe!)
Keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak en rol met ’n koekroller uit. As jy groterige botterbroodjies maak (5cm koekiedrukker), rol die deeg 3cm dik. As jy piepklein, vroulike een-happie nommertjies verkies soos ek gemaak het (3cm drukker) moenie die deeg dikker as 2cm uitrol nie. Druk botterbroodjies uit met ronde koekiedrukker en plaas hulle op ’n bakplaat gespuit met Spray ’n Cook of gesmeer met botter. Verf met die eier/melkmengsel. Bak in ’n 220 grade Celsius oond vir 10 minute of tot deurgebak en goudkleurig. Bedien warm.
maak
8 groot
vooraf
10 min
bak
10 min
goed om te weet
Nog botterbroodjie idees
- Voeg cheddar-kaas of parmesaan by die deeg en strooi ‘n knippie rooipeper of paprika bo-oor na jy die botterbroodjies met die eier/ melkmengsel geverf het.
- Voeg ‘n handvol gekapte glacé kersies by die deeg.
- Voeg ‘n handvol korrente en sultanas by die deeg.
lekker saam met
Ek’s ‘n rooibos fanatikus en Carmien se reeks gegeurde tees is ‘n groot gunsteling. Ek bly by die bessie tema en bedien my botterbroodjies met ‘n dik laag aarbei- of bessiekonfyt en Carmien se rooibos gegeur met swartbessie.
Dis beskikbaar by Pick ‘n Pay, Checkers, Dis-Chem en, in die Oos en Wes Kaap, ook by Spar.
Ek het eers onlangs jou heerlike resepte ontdek! Ek was nog nooit n goeie pannekoekbakster nie maar het dit toe dadelik probeer – wat ‘ n groot lekkerte om heerlike flatervrye pannekoek te kon bak!
Moet asb nie ophou om sulke wonderlike ‘flop-proof” resepte te plaas nie!
Groete!
Dankie Lois, bly julle het geniet!