Katte is eienaardige wesens. As dit kom by selfbehep is hulle wêreldkampioene. Ek ken heelwat sulke mense ook, dissie mooi nie. Maar in katte vind ek dit nie net aanvaarbaar nie, ek dink dis half oulik.
As my vier-voet kind my dus nie meer nie koue skouer gee nie maar kom snuffel vir drukkies in die vroeë oggendure, verstaan ek dis nie oor my nie, dis oor dit begin koud word en ek’s ’n wonderlike warmwatersak. Ek gee nie om nie. Ek’s dankbaar vir die aandag. Dis maar hoe dit is met katte.
Ek lê daar, dankbaar en… bitter ongemaklik. Want ek kan my mos nou nie roer en my engeldier verontrief nie. Dis ook hoe dit is met katte.
In plaas van slaap dink ek dan maar aan kos. Soos hierdie Frans-geïnspireerde bees-en-boon bredie, met hope kruie, knoffel, rooiwyn en bone. Ek bedien dit met ’n baguette en Franse flair in my fynste porselein, en bedank my kat vir die idee voor ek weglê.
Al wat jy nodig het is…
1kg stowe beesvleis (probeer ‘n pak kry wat ook kortribbetjie in het)
2E koekmeel, liggies gegeur met sout en swartpeper
olyfolie, vir braai
1E varkvet (dis opsioneel, maar gee ‘n wonderlike diep geur)
1 groot ui, fyngekap
1E knoffel, fyngekap
1E tamatiepasta
1 koppie rooiwyn
1 blokkie bees- of lamaftreksel
½t growwe swartpeper
½t sout
1½k vars ryprooi tamaties, in blokkies gesny
2 lourierblare
1 takkie tiemie
1 takkie origanum
1 takkie Italiaanse pietersielie
2 ekstragroot wortels, geskil, in die helfte en dan in kwarte gesny
½k water
1 blik wit bone (haricot of cannellini bone), afgespoel en gedreineer
ekstra pietersielie, vir bedien
Rol die vleis in die gegeurde meel en stof af. Braai dit op hoë hitte in olyfolie tot mooi bruin alkant. Verwyder en sit eenkant. (Jy sal die vleis in 2 of 3 sarsies moet doen want sit jy alles op een slag in, word dit nie bruin nie.) Voeg die uie en varkvet by en roer goed sodat die uie al daai wonderlike bruin lekkerte op die boden van die pan losmaak. Braai die uie oor medium-lae hitte tot sag en goudkleurig. Voeg dan die knoffel by en braai vir ’n minuut. Voeg die tamatiepasta by en braai vir ’n verdere minuut. Sit die vleis terug in die pan saam met enige vloeistof wat met die staan uitgekom het. Voef die rooiwyn by en kook met die deksel af vir ’n minuut of twee. Voeg dan die tamaties, peper, sout, kruie, aftrekselblokkie, wortels en water by. Sit die deksel op en prut oor ’n lae hitte vir twee ure. (As jou hitte laag genoeg is behoort jy nie ekstra vloeistof nodig te hê nie, maar loer af en toe en sit ’n paar lepels water by indien nodig.) Voeg die bone by net voor jy bedien en kook vir twee minute. Proe vir sout. Strooi ’n gesonde handvol gekapte Italiaanse pietersielie oor en bedien met die stysel van jou keuse en ’n goeie rooiwyn in die kristalglase wat jy by ouma geërf het.
bedien
4-5
vooraf
20 min
kook
2 ure
goed om te weet
inotage, ‘n Suid-Afrikaanse burger
Pinotage is die breinkind van ‘n Prof Perold van Stellenbosch Universiteit donkiejare terug in 1925. Dis’n kruising tussen die puntenerige maar wonderlike Pinot Noir druif, en die veel meer robuuste Cinsaut, oftewel Hermitage. Jy kan sien waar die naam vandaan kom! Lanzerac was die eerste landgoed om die Pinotage vaandel op te tel en is steeds een van ons top Pinotage landgoedere.
lekker saam met
Hierdie dis mag miskien Frans geïnspireer wees, maar my wynkeuse hierby is eg Suid-Afrikaans: Lanzerac se 2012 Pinotage. Hy’t lieflike bessiegeure en ‘n goeie vrugte-hout balans. Vol en rond, dis vreugde in elke mondvol.
Die 2012 het vier sterre in Platter se 2015 wyngids en is die wenner van goud in die WineStyle People’s Choice Awards. Met ‘n kelderprys van R115 is dit goeie waarde vir ‘n spesiale okkasie wyn.
Los 'n Boodskap