Met die dat die hele wêreld ‘bant’ of ‘paleo’ dat die biesies bewe wonder ek, ‘carbo load’ langafstand-atlete enigsins nog? Kyk, ek het al meer as my ‘share’ 100km+ fietsritte gedoen. En ek kan jou nou sê, die ENIGSTE REDE waarom ek my in een van daai stywe gestopte fietsbroekies sal inwurm en vir 4-5 ure in die tande van ’n vieslike Suidooster sal inbeur, is die belofte van ’n bord pasta. ’n GROOT een. Hierdie resep is vir almal wat ’n groot bord pasta waardeer, maar spesiaal vir al julle gekkes wat Sondag die Argus Fietstoer takel.
Carbonara is een van daai pastas wat vreeslik fênsie klink (en gevolglik menige huiskok effe afskrik). Maar dis een van die maklikste, vinnigste, heerlikste pastas wat jy kan maak. In sy suiwerste vorm is dit net spek, eiers en parmesaan. Niks daarmee fout vir ’n weeksaand ete nie. As jy room het, gooi ’n blerts by. As jy wil uithang, gebruik pancetta in plaas van spek. Die diep aardse geur is wonderlik. En as jy nou rêrig uitspattig wil wees, gee hom ’n lepel of wat mascarpone ook. Weliswaar nie tradisioneel nie, maar ai.
Al wat jy nodig het is…
12 repe pancetta (ek het Ricomondo s’n gebruik, by Pick ‘n Pay te koop)
2E olyfolie
3 eiers
3E mascarpone
8E goeie verouderde parmesaan, fyn gerasper
swartpeper
1 pakkie (500g) spaghetti of linguini
Klits die eiers saam met die mascarpone, parmesaan en ’n paar goeie draaie swartpeper. Sit eenkant.
Om die bros pancetta skyfies te maak, plaas vier van die pancetta repe op bakpapier op ’n bakplaat. Bedek met nog ’n strook bakpapier en plaas ’n swaar oondvaste bak bo-op – dit help dat die pancetta nie krul terwyl dit bak nie. Bak in ’n 180 grade Celsius oond tot bros (± 10 minute – hulle word mooi hard as hulle afkoel). Terwyl die skyfies bak, sny die orige pancetta in 1cm stukke. Braai die pancetta in die olie in ’n groot pan tot net gaar – maar nie bros nie. (As jy nie die pancetta skyfies wil maak nie, sny alles in blokkies en braai.) Verwyder van die hitte.
Kook pasta (in ’n groot pot water met heelwat sout) tot al dente. Skep ’n halwe koppie van die pastawater af en hou eenkant. Sodra die pasta gekook is, dreineer en voeg dadelik by die pancetta. Roer deur op hoë hitte tot elke enkele stukkie pasta gekus is met die pancetta-gegeurde olie. As dit te droog is en begin kleef, voeg ’n lepel of wat van die pastawater by. Verwyder pot van die hitte. Gooi die eiermengsel oor die pasta en roer dadelik goed deur – die hitte van die pasta sal die eier kook en omtower in ’n fluweelgladde sous. (Die vinnig roer en die feit dat jy dit van die hitte af doen sal verhoed dat jy met goor roereier opeindig.)
Bedien dadelik met ’n pancetta skyfie per persoon en hope ekstra parmesaan.
bedien
4
vooraf
15 min
kook
20 min
goed om te weet
Carbonara sonder fieterjasies
Vir gewone tradisionele Carbonara – net spek, eier en parmesaan, volg my resep soos hierbo, maar voeg ‘n ekstra eiergeel by vir bietjie ekstra fluweel wonderlikheid. As jy vegetaries is, laat die spek uit en sit effe meer kaas by. Die geheim hier is die kwaliteit van die kaas, so moenie suinig wees nie.
lekker saam met
My keuse hierby is Glenelly se Glass Collection Chardonnay.
Lieflike lemmetjie en spanspek op die neus, hope vars vrugte op die tong met ‘n effense mineraal ondertoon. Heerlik en onder R70 per bottel.
Los 'n Boodskap