Drentel ’n pop in ’n skoen- of klerewinkel rond vir ’n paar uur sonder om iets te koop gee niemand ’n duit om nie. Probeer dieselfde ding in ’n supermark en die sekuriteitsknape kyk jou skeef en skuif sommer vinnig nader. Blykbaar is supermark-drentel nie gewens nie. Ek’s min gepla. Ek vat my tyd en ek snuffel, ruik en lees etikette. Dis die beste manier om nuwe resep idees te kry.

Soos die ander dag, toe ek op een van my snuffel ekspedisies ’n bottel Marokkaanse Ras El Hanout spesery in Woolies gewaar. Dis ’n geurige mengsel van koljander, komyn, naeltjies, gemmer en ’n spul ander wonderlike goed. In Marokko is g’n twee dieselfde nie want elke self-respekterende mamma meng haar eie. Dit klink te veel na moeite, so die bottel beland in my mandjie. Terug by die huis marineer ek vet lam ‘steaks’ in olyfolie en ’n stewige skoot Ras el Hanout. Ek gooi hulle op die braai tot hulle net-net medium is, sny hulle in dik skywe en tuimel hulle op ’n groot bord met ’n framboos-en-ment sousie ding. Tog te fraai. Toe ek die resep weer vir die afnemery maak kon ek ongelukkig net lamtjops kry – nie so mooi nie, maar net so lekker.

Al wat jy nodig het is…

800g lam ‘steaks’ of klein tjops
3E olyfolie
1½E Ras El Hanout
sout
10E witwyn asyn
5E suiker
knippie rooirissie vlokkies
¼ koppie vars mentblare
8 frambose

Bedek die lam met die olyfolie en Ras El Hanout. Sit kleefplastiek oor en plaas in die yskas vir ten minste ’n uur. Maak intussen die framboos-en-ment sous. Sit die suiker, asyn en rissie in ’n klein pot en kook tot die suiker opgelos is en die sous stroperig is. Verwyder en koel af tot kamertemperatuur. Kap die mentblare en druk die frambose rofweg plat. Voeg by die stroop en laat staan vir ’n ruk sodat die geure kan meng. Sout en braai die lam (ek verkies hom redelik pienk) en bedien die framboos-ment sous daarby.

bedien

4

vooraf

1 uur

kook

20 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog spesery opsies

Ek het die Ras El Hanout by Woolworths in hulle spesery afdeling gekry. Hulle het ook ‘n Harissa spesery mengsel en ‘n Marokkaanse mengsel (Morrocan Spice Blend). Albei sal ewe goed by hierdie resep werk in plaas van die Ras El Hanout.

lekker saam met

By lam sal ek gewoonlik iets rooi soos ‘n Shiraz kies. Maar die parfuum-speserye van Ras El Hanout en die ment en framboos werk nie vir my by rooi nie. Die antwoord? ‘n Rooie wat wit is. Boschendal se Blanc de Noir (letterlik wit uit swart) bestaan uit 50% Merlot, 15% Shiraz, 15% Cabernet en 15% Pinotage met die orige 5% ‘n mengsel van ander rooi variëteite. Die druiwesap word dadelik gepars en gefermenteer sonder die skil, sodat die kleur pienk in plaas van rooi is.

Dis propvol bessie geure met lieflike aarbei en framboos en bietjie spesery. Vrugtig en vars, Boschendal se Blanc de Noir is goeie waarde met ‘n winkelprys van hier by die R50 per bottel.

Bean There

scroll-main

Ook beskikbaar in: English