Begeerte is ’n lelike ding. Met die dat ek gewikkel is in ’n konstante stryd om ’n beter mens te wees, probeer ek dit liefs vermy. Maar twee Saterdae terug kom plak die duiwel hom lustig op my skouer neer – en hy klou.
Die moelikheid het begin met ’n uitnodiging om te kom kuier by Anthonij Rupert Wyne buite Franschhoek. Ek weet my nigs en neefs van daar bo dink onse mense hier in die Kaap lê heeldag en aldag lank op wynplase rond. Maar dissie so nie. Ons werk ook. Dus was die vooruitsig om my gewone Saterdag se wasgoed en stofsuiery vir wynproe te ruil tog te gaaf.
Nou my normale strategie met wynproe is om twee wynplase te tref en dan te stop vir middagete by ’n derde. Maar as Anthonij Rupert Wyne op jou lys is kan jy maar van ander vergeet, want híér kan jy heeldag lank kuier.
Ry deur imposante hekke en op met ’n laning eeuoue bome en jy kom uit by die Anthonij Rupert proelokaal in ’n ou herehuis met geelhout vloere, reuse kaggels, prag skilderye, antieke meubels… die lot. Dís mos nou my idee van ’n proelokaal. Ag die begeerte tog.
Hier kan jy hulle top Anthonij Rupert wynreeks proe asook hulle Cape of Good Hope wyne (’n inisiatief van Johann Rupert om die oudste wingerde vanoor die Kaap op te spoor en te bewaar). Die proe storie vind plaas in groeperings van eenderse wyne en die prys hang af van wat jy proe. Jy kan hier vashaak en ’n kaasbord bestel. Of jy kan ná die wynproe vir ’n paar ure in hulle prag sitkamer terugsit en oor ‘high tea’ skinner en kuier.
Anthonij Rupert Wyne: Kom spandeer die dag, jy sal nie spyt wees nie.
Maar ek het ander planne gehad, so na die proe is ek vort op die plaasbus, spesiaal gebou om soos ’n egte San Francisco trêm lyk. Ons vat die plaas se agterpaaie en ek sit terug en begeer bewonder. Om ’n paar draaie, verby ’n dam en spogperde, op met nog ’n laning en uiteindelik is ons by ons bestemming – die Franschhoek Motormuseum wat op die L’Ormarins gedeelte van die plaas is. Hier huisves vier reuse fênsie ‘skure’ die beste motorversameling op die vasteland, waarskynlik een van die bestes in die wêreld. Van die eerste Model A Ford wat in 1914 na Suid-Afrika ingevoer is, tot blinkrooi Ferraris (ja-nee, die begeerte) – jy sal sommer vinnig besef jy hoef nie kar befoeterd te wees om hierdie museum te waardeer nie. En – iets wat my hart sommer warm maak – elke liewe bordjie is in Afrikaans, so ook die motormuseum se webwerf. Oulike Afrikaanse mense, dié Ruperts.
Al die begeerte maak ’n pop nogal honger, so terug op die plaastrêm mik ek vir die hipermoderne Terra del Cappo proelokaal en antipasto restaurant. Hier kan jy hulle Italiaans geïnspireerde Terra del Cappo wyne proe (Pinot Grigio, Sangiovese en meer) asook hulle sakpas elke-dag Protea reeks wyne. As jy eers besluit het wat jou geval, bestel ’n glas of ’n bottel en lê weg aan hulle antipasto – wit ansjovis, bros kalamari, sappige lamtjoppies en veel meer… Dis heerlik, die porsies groot vir antipasto en die pryse baie goed in vergelyking met soortgelyke antipasto/tapas spyskaarte op ander wynplase.
Teug, knabbel en sit gemaklik terug terwyl jy deur die restaurant se glasmuur loer na waar Terra del Cappo se bottels volgemaak word. As die honger nie meer knaag nie, maak ’n draai by die landgoed se winkel langs die restaurant. Laai jou mandjie vol heuning en olyfolie van die plaas, mooi glase, wonderlike kombuisgoeters en natuurlik WYN.
Met dank aan die toegewyde span by Anthonij Rupert Wyne vir die uitnodiging en ‘n wonderlike dag.
Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.
Los 'n Boodskap