’n Vriendin sê so terloops vir my die ander dag dat ek darem hou van my stysel. Sy’s heeltemal reg. Wys my ’n stuk brood of ’n bord pasta en ek’s nie verantwoordelik vir wat volgende gebeur nie.

Daar’s ’n paar goed wat ek altyd in my vrieskas het – daai halfgebakte ciabattas wat net tien minute in ’n warm oond nodig het, pita brode en ‘wraps’ (g’n idee wat ‘n ‘wrap’ in Afrikaans is nie). Met een van dies kan ek binne minute ’n skaflike maaltyd aanmekaar slaan.

Maar ek verstaan daar’s die wat stylsel nie wil of, erger nog, mág eet nie. So hierdie resep is vir almal van ons – met ’n gewone ‘wrap’ vir die styselvrate soos ek en met ’n slaaiblaar ‘wrap’ vir die res.

Al wat jy nodig het is…

1 groot ui, fyngekap
olyfolie vir braai
800g vark-maalvleis (as jy nie maalvleis kan kry nie, koop varkvleis en blits dit fyn in jou voedselverwerker)
1 sny witbrood, in melk geweek en gedreineer
¼t gedroogde rissievlokkies
½t sout
¾t vinkelsaad, fyngedruk
stewige knip growwe swartpeper
groot vinkelbol, baie fyn gesny
1 groot Granny Smith appel, gehalveer en in baie dun skywe gesny of soos vuurhoutjies gesny
8E laevet gewone joghurt
4E mayonnaise
slaaiblare
Meksikaanse ‘wraps’
hout sosatiestokkies, in water geweek

Braai die ui in een eetlepel olyfolie tot sag en goudbruin. Voeg by die maalvleis saam met die brood, rissie, sout, vinkelsade en swartpeper en meng goed. Druk die mengsel stewig vas op sosatiestokkies. (As ek nou eerlik moet wees, sal ek erken jy’t nie rêrig die stokkies nodig nie, jy kan sommer net ovaalvormige bolletjies rol. Maar kos op stokkies is eenvoudig meer pret!)

Braai die sosaties in olyfolie tot deurgaar en goudbruin. (Jy kan hulle ook onder die rooster of op die braai doen, verf hulle eenvoudig liberaal met olyfolie.)

Meng die joghurt en mayonnaise en voeg ’n knippie sout en peper by. Om die slaai te maak, meng die vinkel en appel met die helfte van die joghurtsous.

Om te bedien, verwyder die stokkie en rol die varksosatie op in ’n ‘wrap’ saam met die vinkel-en-appelslaai, geskeurde slaaiblare en ekstra joghurtsous sommer net virrie lekker. As jy deel is van die anti-stysel brigade, gebruik ’n groot slaaiblaar om die affêre in toe te draai.

bedien

4-6

vooraf

15 min

kook

10 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Vinkel…

Vinkel is van Mediterreense afkoms en uiters gewild in Frankryk en nog meer so in Italië waar dit finocchio genoem word. Dit het ‘n effe anyserige smaak, maar is baie meer subtiel. Gebruik dit rou in slaaie, of rooster dit. Loer hier na my vinkel-en-varkburger resep en my geroosterde varklende met vinkel. En nee, vinkel is nie net vir vark nie, dit werk ook wonderlik by hoender en bees.

Dis gesond met tonne vitamien-C en minerale en is ‘n briljante anti-oksidant. Tradisioneel is dit gebruik om allerhande kwale aan te spreek, van te min borsmelk tot ‘n kolon wat pla!

lekker saam met

Vinkel is vir my vriende met Sauvignon Blanc, veral een met groen gras geure. Cederberg s’n is ‘n groot gunsteling. Hulle 2013 Sauvignon Blanc het met goud weggestap by die 2014 Sommelier Wine Awards.

As jy iets goedkoper verkies, gryp ‘n bottel Merwida Sauvignon Blanc. Met sy mineraal en groen op die neus en tong is dit ongewoon kompleks vir ‘n wyn hier by die R50 merk.

Cederberg

scroll-main

Ook beskikbaar in: English