Daar’s baie kos waaroor ek diep nostalgies voel. Sondagmiddag se skaapboud en souskluitjies om die lang tafel in ouma se kombuis. Tong in ’n soet-mosterd sousie (my ma, ’n gespanne kok, se ‘dinner party’ staatmaker). Ideal-melk roomys en melktert. En hoenderpastei propvol naeltjie geur. Dis die kos van my kindwees. Soveel as wat ek moderner en ligter verkies vir elke dag se eet, is dit steeds die kos waarna ek hunker as die weer of my wêreld bietjie woes raak.

Maar wat is heel bo-aan my onthoukos lys? Melkkos natuurlik. Hierdie naweek gaan die weer sommer baie, baie woes wees. Hulle praat vloede en sneeu vir die Kaap. So hier’s hy uiteindelik, ’n melkkos resep vir snoesige kuiers voor die kaggel.

Daar’s drie basiese maniere om melkkos te maak: met frummels, met snysels en met sago. Wat al drie in gemeen het, is melk en tonne kaneelsuiker. Soete sielslafenis. Ek deel my resep vir die een met sago eerste. Want dis die maklikste een. En dis die een wat my ma gemaak het.

Al wat jy nodig het is…

1 liter volroom melk
4E suiker
2 stukke pypkaneel
twee repies gedroogde lemoenskil (droog is verkieslik, maar gebruik vars as jy nie het nie – so twee lang repies met die groenteskiller is meer as genoeg)
1 koppie sago
⅛t sout
2E botter (nié margarien nie)
botter vir bedien
kaneelsuiker vir bedien (Sien GOED OM TE WEET hieronder)

Gooi die sago in ’n bakkie en bedek dit goed met water. Laat dit week vir 30 minute.

Gooi die melk, suiker, lemoenskil en pypkaneel in ’n pot en verhit stadig.  (WENK: ek is mal hieroor net so, as ’n warm melkdrankie net voor bed op ’n koue wintersaand!)

Dreineer die sago en voeg by die warm melk.  Kook hom op ’n  lae hitte terwyl jy roer. Soos die sago kook verdik hy die melk. (As die melkkos te dik na jou smaak is hier aan die einde, gooi nog so ’n halwe tot een koppie warm melk by. Ek hou daarvan dikkerig.) As die sago eers gekook is – m.a.w die balletjies is deurskynend (dit vat omtrent 20 min), voeg die bottter en sout by en roer deur.

Verwyder van die hitte en verwyder die lemoen en pypkaneel. Bedien onmiddelik in sopborde met tonne kaneelsuiker en (as die duiwel op jou skouer sit, sommer ’n klontjie botter ook). Vir die ekstra lekker, wat van bietjie gesmelte appelkooskonfyt? Tien sekondes in die mikro is al wat hy vra.

bedien

4

week

30 min

kook

25 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Hoe om kaneelsuiker te maak

So maklik, dis eenvoudig witsuiker gemeng met fyn kaneel. Ek hou van hom geurig – twee dele suiker op een deel kaneel.

lekker saam met

Jy hoef my nie twee keer te nooi om ‘n bottel oop te maak nie, maar as daar een kos is waarby ek rêrig nie wyn wil hê nie, is dit melkkos.

Nee wat. Miskien net ‘n koppie boeretroos. Maar nie na sewe in die aand nie. Dan maak ek nie ‘n oog toe nie.

Milk

scroll-main

Ook beskikbaar in: English