Op ’n koue, nat wintersaand is daar net drie goed waarvan ek wil weet – warm mamma-kos, ’n glas wyn en my ‘passion-killer’ pienk hasie-pantoffels. Ek’t seker ’n paar ‘airs’ en ‘graces’, want ek dink nie dis OK om in my pantoffels uit te gaan nie. As ’n uitnodiging vir ’n ding wat in die aand gebeur dus my kant toe kom in die winter, dink ek twee keer. Gelukkig is my liefde vir goeie kos en wyn groter as my liefde vir my hasies.
Laas Donderdagaand verruil en toe maar my stoffels vir ’n paar parmantige bruin stewels en vat die pad in stad toe na Kyoto Garden Sushi in Laer Kloofnek, Tuine, vir ’n kuier saam met die mense van KWV. Hulle’t so pas die vorige aand stof in vele ander se oë geskop by die Old Mutual Trophy Wine Show, so die glimlagte was redelik breed. Maar miskien is hulle altyd so vrinlik. Miskien is dit ’n Pêrel ding. Dit is darem ’n mooie plek. Ons proe-proe aan ’n Classic Collection Merlot, ’n Pinotage en ’n Chardonnay. En toe kom die kos.
Geelstert ceviche met lemmetjie en ’n Classic Collection Sauvignon Blanc. Krap soesji met Chenin. En die sagste sag Wagyu-beesvleis met Shiraz. Dis ’n goeie ding die porsies was aan die kein kant want om myself te vergryp en skandes te maak (‘boots’ en al) sou maklik gewees het. So mal as wat ek was oor die kos, was ek nog maller oor die wyn. Want sien, ek’s konstant aan die soek vir daai ‘magic’ kombinasie – goedkoop én goed. Met pryse hier van R40-R55 is KWV se Classic Collection wyne perfek vir elke dag – én meer as goed genoeg om oop te maak vir snobistiese wynvriende wat dink hulle ken van.
Net daar besluit ek, ek moet met een van hierdie wyne kook. En waar dan nou beter as om in te loer by die Franse met daai staatmakers van elke fênsie 1970s ‘partie’ – Coq Au Vin of Boeuf Bourguinon. Dis basies dieselfde ding, behalwe vir die ‘chicken or beef’ deel. Dink tiemie, spek, sampioene, klein uitjies en sommer ’n hele bottel rooiwyn en jy’s op die regte spoor. Ek kies hoender en maak dit met ’n bottel KWV Shiraz. Dis heerlik. MAAR… wit vleis gekook in rooiwyn word ’n gevaarlike pers kleur. Dis soos ’n knaap met ’n bierboep in ’n Speedo – nie mooi om te sien nie en definitief nie ’n ding wat ek wil afneem nie. Toe maak ek dit maar weer – met witwyn. En omdat ek reeds ’n kardinale reël oortee het, roer ek ’n bietjie crème fraîche ook by hier op die einde.
Al wat jy nodig het is…
Pak van 8 hoenderdye en boude
12 klein uitjies, geskil en in die helfte gesny of heel as hulle klein genoeg is
150-200g sampioene (Ek het Woolies se ‘Exotic’ sampioenmengsel gebruik vir bietjie intenser geur en vir die mooi, maar knopiesampioene is piekfyn.)
1 klein ui, baie fyngekap
100g spek, fyngekap
1 lekker vet knoffelhuisie, fyngekap
4 takkies vars tiemie
500ml droeë witwyn (ek het KWV Classic Collection Chenin Blanc gebruik)
200g wortels, geskil en in stukke gesny
hoenderaftreksel (Gewoonlik het ek nie ’n probleem met ‘n blokkie nie, maar hierdie dis verdien spesiale behandeling, so gebruik eerder een sakkie van Ina Paarman se Concentrated Liquid Real Chicken Stock. Dis die geld werd.)
sout en growwe swart peper
4 hoogvol eetlepels crème fraîche
2 E Italiaanse pietersielie, gekap
olyfolie en botter, vir braai
Klad die hoenderstukke met ’n vadoek om seker te maak hulle is lekker droog. Gooi drie eetlepels olyfolie in ’n dikbodempan en verhit. Sprinkel sout en peper oor die hoenderstukke en braai hulle in die pan tot goudbruin. Verwyder en sit eenkant. Braai die heel uitjies vir ’n paar minute tot hulle begin kleur kry. Verwyder en voeg by die hoederstukke.
Braai volgende die fyngekapte uie en spek tot sag en goudbruin. (Wees versigtig dat dit nie brand nie.) Gooi die knoffel en sampioene by en braai vir nog twee minute. (As jy gewone knopiesampioene gebruik, gooi alles nou in. Vir my eksotiese sampioenmengsel het ek die groteres soos shiitake gesny en op die stadium ingegooi. Die vreeslike fyn sjimeji sampioene wou ek nie pap kook nie. Ek het hulle uitgehou en hier heel op die einde vinnig apart in botter gebraai en toe oorgestrooi. Tog te fraai.)
Gooi die wyn in en kook vinnig vir twee minute sodat die alkohol verdamp. Voeg die sakkie hoenderaftreksel, tiemie takkies, hoenderstukke (saam met enige vloeistof wat met die staan uitgekom het) klein uitjies en gekapte wortels by. Sit die deksel op, draai die hitte baie laag en kook stadig tot deurgaar en sag. Roer die crème fraîche by en kook vir 2 minute. Sprinkel die pietersielie in. Proe vir sout (jy sal nog nodig hê) en gee hom nog ’n skoot peper.
Jy kan hierdie net so eet as jy die Tim Noakes ‘stysel-is-die-duiwel’ ding doen. Ek steur my nie daaraan nie, so ek hou hiervan met ’n gevaarlike groot stuk Franse baguette of baba aartappels in die skil. En natuurlik ’n glas wyn.
bedien
4
vooraf
10 min
kook
40 min
goed om te weet
Boeuf Bourguinon en Coq Au Vin
Om tradisionele Coq Au Vin te maak, volg hierdie resep, maar gebruik rooiwyn in plaas van wit en laat die créme fraîche uit.
Vir Boeuf Bourguinon doen jy presies dieselfde, maar gebruik stowe beesvleis en kook hom lank en stadig in die oond.
lekker saam met
As ek met ‘n wyn kook, hou ek daarvan om dieselfde wyn te drink so my keuse hierby is KWV se Classic Collection Chenin Blanc. Dis lieflik droog en propvol tropiese vrugte én dis ‘n Michelangelo goue medalje wenner.
Glad nie sleg vir ‘n wyn wat vir onder R45 verkoop nie. Teen dié prys gaan ek sommer ‘n hele paar koop en in die yskas hou vir wanneer die lus my pak.
Los 'n Boodskap