Ek’t ’n ding oor tamaties. Dit kom ’n lang pad. My pa was ’n man wat in padkos geglo het. Seker goed so, want in daai dae was daar nie ’n gerieflike Shell garage met ’n Steers/Wimpy/Watookal elke 250 km nie. Op die vooraand van ons togte kus toe het my ma gekook en gepak. Altyd dieselfde – mens sukkel nie met ’n wenresep nie – wors, hardgekookte eiers en toebroodjies gemaak met ‘goewerment’ witbrood, hope botter en tamaties. Hulle was pap pienk teen die tyd wat my pa sewe uur die volgende oggend besluit het hy’s reg vir koffie langs die pad. Hemels.
‘Fast forward’ ’n paar (OK ’n hele paar) dekades later en ek verkoop steeds my siel vir ’n tamatie. Ek eet hulle sappig en ryprooi met vars mozarella en basiliekruid. In ’n eenvoudige tamatiesous met spaghetti. Of sommer net so, met ’n knippie sout. As die winter kom en ryp vars tamaties is so skaars soos geld in my bankrekening teen die middel van die maand, is daar net een genade… die geblikte een.
Al wat jy nodig het is…
olyfolie, vir braai
1 groot rooi ui, fyngekap
1 groot knoffelhuisie, fyngekap
1½t gerookte Spaanse paprika (let wel: gewone paprika is NIE ‘n gepaste alternatief nie)
knippie gerookte rissievlokkies (Of gewone rissievlokkies. Laat heeltemal uit as ‘n klein bietjie hitte rêrig nie jou ding is nie.)
2 blikkies tamaties met sap, gekap
1½ koppies water
1 blokkie beesaftreksel (gebruik die groente een vir ‘n vegetariese sop)
1½t bruinsuiker
2E pers basiliekruid, gekap (groen basiliekruid werk ook, maar ek is dol oor die pers by die rooi)
groot handvol (so 100g) ryprooi kersietamaties, in die helfte gesny
4E vars room (plus ekstra vir bedien)
sout en growwe swart peper na smaak
Braai die uie in 2E olyfolie tot sag. Voeg die knoffel, rissie en paprika by en braai vir 30 sekondes. Voeg die geblikte tamaties met sap, die water, bruinsuiker beesaftreksel blokkie en basiliekruid by. Sit deksel op en kook op ’n medium-lae hitte vir 15 minute. Voeg die klein kersietamaties by en kook vir nog 5 minute. Voeg die room by. Proe en voeg swart peper en (indien nodig) sout by. Bedien met ’n ekstra skeppie room met ’n knippie paprika bo-op vir die mooi, en sommer ’n paar pers basiliekruid blare ook.
Hierdie sop is heerlik met my kits parmesaan beskuitjies. Loer na GOED OM TE WEET hieronder vir die resep.
bedien
4
vooraf
5 min
kook
20 min
goed om te weet
Kits parmesaan beskuitjies
So, so maklik! Gryp eenvoudig een vel ordentlike botter blaardeeg (Woolworths se ‘Butter Puff Pastry’ een is die enigste een wat ek koop.) Rasper parmesaan-kaas oor die hele vel deeg. Wees vrygewig, jy wil hom sommer baie kaserig hê. As jy hou van ‘n byt, sprinkel ‘n knippie rooipeper ook oor. Rol die vel deeg op soos jy sal maak met ‘n pannekoek.
Sit dit in die vrieskas vir ‘n paar minute tot ferm. Sny nou die deegrol in skywe van so 5mm dik. Pak die skywe op ‘n kleefvrye bakplaat en bak in die oond teen 180 grade Celsius tot goudbruin. Hierdie beskuitjies is ook heerlik as ‘n knabbelding met ‘n glas wyn voor ete. Gehou van die idee? Klik hier vir nog ‘n kits blaardeeg idee.
lekker saam met
Hierdie sop het sterk geure, so jy’t ‘n wyn nodig wat daarby kers kan vashou. My keuse hierby is rooi. Laborie se 2012 Shiraz is propvol rooi bessie en speserye op die neus en fluweelsag op die tong.
Glad nie sleg vir ‘n Shiraz met ‘n kelderprys van net R55 per bottel nie.
Los 'n Boodskap