“How did it get so late so soon? It’s night before it’s afternoon. December is here before it’s June. My goodness how the time has flown. How did it get so late so soon?” ~ Dr. Seuss

En dít, mense, is presies hoe ek voel. Ek sit gisteraand en tob oor ’n lekker sop vir hierdie week se resep. Toe tref dit my soos weerlig – dis nie meer Februarie nie, nie Maart nie. Nee, dis April en hierdie naweek is Paasnaweek. ’n Kwart van die jaar verby – en ek het g’n benul hoe die tyd so gevlieg het nie! Toe los ek maar die idee vir sop (niks pryse vir raai wat volgende aan die beurt is nie) en maak gou ’n parmantige klein poeding vir Pase: Paaseiers met ’n aarbei en sjokolade mousse vulsel. Dis vinnig (soos in net 10 minute), maklik (soos in jy koop als) en lekker (soos in “kan ek nog ene kry ma?”).

Al wat jy nodig het is…

8 hol sjokolade-eiers
500ml winkel sjokolade mousse
bakkie vars aarbeie
125ml vars room
1E strooisuiker

Sit die eiers in eierkelkies. Maak ’n skerp mes met ’n lekker skerp punt goed warm. Ek het die oop vlam van my gasstoof gebruik, maar ’n kersvlam werk net so goed. Sny die boonste kwart van die sjokoladedop af (nes jy met ’n gekookte eier sal maak). Ek vind dit help as jy begin deur eers ’n klein gaatjie met die mespunt te maak. Dan’s daar iets vir die lem om aan vat te kry.

Was en sny die aarbeie in dun skyfies. Skep ’n lagie van die mousse in die eier. Dan ’n laag aarbeie, weer mousse, nog aarbeie en uiteindelik ’n laaste laag mousse heel bo. (As jy die mousse in ’n spuitsak sit is dit sommer baie maklik. Sien GOED OM TE WEET hieronder vir my vinnige truuk vir ’n tuisgemaakte spuitsak.) Klop die room met suiker tot dik. ’n Skeppie room en stukkie aarbei bo-op en miskien ’n fraai blommetjie uit die tuin vir die mooi en hy’s reg.

As jy fluks voel kan jy natuurlik jou eie mousse maak. Dis hope lekkerder as enige winkel mousse! Hier’s ’n idee… koop een massiewe eier in plaas van kleintjies en plaas dit in ’n mandjie of diep bak wat gevoer is met repies bruinpapier of raffia om ’n ‘nessie’ te vorm. Vul die eier met my witsjokolade mousse (resep hier) en skep die frambose oor net voor jy dit bedien. Dis gesofistikeerd maar speels en sal beslis gaste beïndruk. As witsjokolade nie jou hart vinniger laat klop nie, volg steeds die resep en vervang eenvoudig die witsjokolade met ’n 50/50 mengsel donker en melksjokolade.

Warm Paaswense vir jou en jou familie. As julle die langpad vat, ry veilig.

bedien

8

vooraf

10 min

kook

0 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Kits tuisgemaakte spuitsak

Skep die sjokolade mousse in ‘n plastiek kossakkie of plastiek vrieskassakkie. Druk alles na een punt toe en knoop die sakkie toe. Sny die punt oop met ‘n skêr. Daar het jy dit, ‘n spuitsak in ‘n kits!

lekker saam met

Ek’s mal oor sjokolade en borrels. ‘n Pienk een sal die vrugtigheid van die aarbeie goed aanvul. Probeer Allée Bleue se 2012 Rosé MCC.

Met 57% Pinotage en 8% Pinot Noir, het hy sommer baie aarbeie op die neus en tong.

Allee Bleue Brut

scroll-main

Ook beskikbaar in: English