’n Properse mielie herhinner my aan ’n graad eentjie met ’n haasbek en ’n poniestert. Ek bedoel nie die winkel een wat gepluk, gewaks en perfek ‘getrim’ is nie. ’n Behoorlike mielie lê knus in sy blarekombersie, baard en al. Trek jy die blare terug, het jy ’n wafferse poniestert, sommer baie nuttig om die mielie aan te gryp as jy hom op die braai wil omdraai. Hy’s ook nie perfek soos die winkel een met al sy pitte teenwoordig en netjies in ’n ry nie. Nee, hier na die punt se kant toe is hy lekker haasbek. Laas Saterdag loop ek sulke ordentlike mielies by die Oranjezicht stadsplaas se markdag raak.

Daar is twee skole as dit kom by mielies gaarmaak. Die een sit hom in ’n pot met soutwater. Hy kom heerlik sappig uit, maar hy skort daai rokerige braaismaak waarvan ek soveel hou. Die ander skool smyt hom op die braai. Dan’s hy nou wel rokerig ja, maar die pitte is meestal so droog en taai dat ek effe te veel Chenin moet sluk om hom in te kry. Nie dat ek eintlik ’n verskoning nodig het om effe te veel Chenin te sluk nie.

My geheim vir ’n mielie wat sappig én rokerig is? Ek doen altwee… Eers kook ek hom in ’n pot water tot net gaar. Dan sit ek hom op die braai vir so vyf tot tien minute. Ek soek daai braai skroeimerke. Dis nie genoeg vir ’n diep rokerige braaismaak nie. Dus help ek die lotjie aan deur die mielies deurtentyd te verf met ’n botter propvol rookgeur. Dis so maklik, ek voel half skaam om hierdie ’n resep te noem. Maar ek deel hom tog, want jene dis lekker.

Al wat jy nodig het is…

6 mielies
60g botter
¼t gerookte rooirissie vlokkies (Woolies het)
½t gerookte paprika
1t gerookte sout (Maldon sout, te kry by meeste groot supermarkte, het ‘n gerookte weergawe. Woolies het ook een)

Kook die mielies, blare en al, in ’n pot soutwater tot gaar (20-25 minute). Dreineer en trek die blare terug maar hou hulle aan die mielie want dis die perfekte ‘handvatsel’ om hom te draai op die braai. (As jy net winkelmielies sonder blare kan kry is dit ook reg, die resep bly dieselfde.)

Smelt die botter en voeg die speserye en sout by. Plaas die mielies op die braai en verf met die botter. Maak seker jy draai hulle van tyd tot tyd sodat hy alkant botter kry en karameliseer. So vyf tot tien minute op die braai is perfek. Sprinkel grasuie of Italiaanse pietersielie oor. Bedien met nog van die gerookte sout en rissie. Sien, ek’t gesê dis maklik!

bedien

6

vooraf

5 min

kook

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Maklike mielie-salsa

Kook die mielies volgens die resep hierbo. Gebruik ‘n skerp mes om die mieliepitte van die stronke af te sny. Meng met fyngekapte rooi uie, vars koljander en klein kersietamaties in kwarte gesny. ‘n Blerts vars lemmetjiesap en hy’s reg. Dis perfek as bykos by enige braai.

Óf bedien dit saam met nachos, guacamole, Tabasco en suurroom as die perfekte knabbelding terwyl julle wag vir die res van die braai.

lekker saam met

As jy lus is vir ‘n ligte wit vir ‘n lang kuier om die braaivuur, probeer Almenkerk se 2012 Lace Sauvignon Blanc. Dit het lieflike ryp vrugte en ‘n effense blommegeur op die neus. Ek’s geneig om my tong te vertrou as dit kom by wyn, maar pryse beteken tog baie want ouens wat sommer baie oor die ding weet proe kompetisie-wyne.

Die 2012 Lace SB is ‘n 2013 Vitis Vinifera Goue Medalje wenner and ‘n Silwer Medalje wenner in die 2013 International Wine & Spirits Competition. Nogal indrukwekkend vir ‘n wyn met ‘n kelderprys van R75.

Almenkerk Lace

scroll-main

Ook beskikbaar in: English