Die vrinlike mense van SABC3 se Expresso oggendprogram bel my so paar dae terug. Het ek lus om weer saam met hulle te kom kook? Ek glo mens moet nooit ’n kans om ’n gek van jouself op nasionale TV te maak mis nie, so my antwoord was uiteraard ‘ja’.
Die tema was kook met vrugtesap. En ek moes suiker ook êrens inboender. Normale mense sal seker ’n poeding maak. Maar ek hou van ’n uitdaging. Hoe kan ek ’n vleiserigheid maak en nie net vrugtesap nie, maar ook suiker gebruik? Hier’s hy… my Oosters-geïnspireerde ‘sticky’ hoender vlerkies met ’n rissie-ment sout.
Ek het my pad oopgewerk deur vier van dies voor ek vir lug opgekom het.
Al wat jy nodig het is…
Vir die marinade
1k lemoensap
1E donker bruinsuiker (muscovado)
3 skywe vars gemmer (elk 2mm dik)
1 knoffelhuisie, fyngekap
¼t gekapte vars rooi rissie (sonder saad)
1½t donker sojasous
¼t Thaise vissous
1t hoisin-sous
sap van ‘n halwe suurlemoen
½-1t mielieblom
Vir die hoender
¼t Sjinese ‘five spice’
10 hoender vlerkies
Vir die rissie-ment sout
1/8t fyngekapte rooi rissie (sonder saad)
1t ligte bruinsuiker (demerara)
1t suurlemoenskil
2E growwe seesout vlokkies
4E ment, fyngekap
Vir bedien
sprietuie
koljanderblare
rooi rissies
lemmetjies
Sprinkel die Sjinese spesery oor die hoender vlerkies en plaas in die yskas. Sit al die bestanddele vir die marinade in ’n pot (buiten die mielieblom) en kook vir 5 minute. Laat marinade heeltemal afkoel. Plaas hoender in ’n plastieksak (die een met die ritssluiter werk heel goed), gooi die marinade oor en plaas dit in die yskas vir ten minste twee ure. Dop hom ’n paar keer om sodat al die hoender kontak met die marinade het.
Maak al die bestanddele vir die rissie-ment sout poeierfyn en sprei uit op ’n bakplaat. Droog dit uit in ’n 50-grade Celsius oond. Breek die soutblok op en sit in ’n bakkie, reg vir bedien by die hoender.
Lig die hoenderstukke uit die marinade en bak op ’n bakplaat in ’n 200-grade Celsius oond vir 30 minute. Meng intussentyd die oorblywende marinade met die mielieblom en een eetlepel water en kook dit tot dit begin verdik.
Verwyder die hoender na 30 minute, verf met die verdikte marinade en plaas onder ’n warm rooster vir ’n minuut of twee. Herhaal met die ander kant.
Bedien warm met die rissie-ment sout en hope sprietuie, rooi rissie, koljanderblare en wiggies lemmetjie.
voofaf
15 min
rus
2 ure
kook
35 min
goed om te weet
Nog ‘n idee vir gegeurde sout
Meng een teelepel gekapte vars roosmaryn en twee eetlepels sout. Maal tot dit fyn is en droog dit in die oond uit (nes met die rissie-ment sout). Dis heerlik by ‘n braai lamtjoppie.
lekker saam met
Hierdie hoender vlerkies is perfekte partytjiekos. Skares sê vir my net een ding – goedkoop is sommer baie belangrik. Leeuwenkuil se Chenin Blanc is onder R40 ‘n bottel.
Nou goedkoop Chenin is maklik ‘n lelike gedierte met oorryp tropiese vrugte. Leeuwenkuil s’n is nie, hy’s vrugtig en vars.
Los 'n Boodskap