Om ouer te word is wonderlik. Dis wat ek myself vertel sodat ek nie te veel tyd spandeer aan wroeg oor hoe dinge begin sak, uitsit en plooi nie.

Ek’s verlig om te kan bevestig dat dit waar is – soos die jare aanstap, gee mens rêrig minder om wat ander dink. Winkels toe gaan sonder grimering? As jy my tien jaar gelede ’n keuse gegee het tussen of dít, of ’n militêre-styl ‘crew cut’, is ek redelik seker ek sou liefs gekies het dat my lang lokke waai. Deesdae martel ek sommer dikwels vreemdelinge in winkelsentrums met my ongeverfde bleek gevreet en sweetpakbroek.

Ek verlustig my in hierdie nuwe wie-gee-om fase van my lewe. Ek voel ek’t gewerk daarvoor. Tog wens ek stilletjies steeds ek was Frans. Ek bewonder my lewe lank al Franse vroue. Hulle moeitelose elegansie, hulle tydlose styl, hulle filosofiese benadering as hulle mans die kat in die donker knyp…

Maar meeste van als, bewonder ek hulle klaarblyklike onvermoë om gewig op te tel. Dis ’n feit soos ’n koei. Ek was al drie keer daar en ’n vet Franse vrou het ek nog nooit as te nimmer teëgekom nie.

Ek verstaan dit nie, want dis nie asof die Franse skaam is as dit by die botter en room kom nie. Dink maar aan Dauphinoise – daardie hemelse kombinasie van aartappel, botter en room, met neutmuskaat en ’n titsel knoffel.

Dis ’n meesterstuk en die enigste gebakte aartappeldis wat jy in jou resepteboek nodig het. Ek kan sommer ’n hele bak daarvan op my eie opeet. Op die rusbank. Voor die TV. In my sweetpakbroek.

Ek vermoed sterk dat niemand my ooit met ’n elegante Franse vrou gaan verwar nie. Ag wel, c’est la vie.

Al wat jy nodig het is…

6 groot aartappels
250ml vars room
3E botter
1 knoffelhuisie
¼t neutmuskaat
sout
swartpeper

Skil die aartappels en sny hulle in papierdun skywe. Sit hulle in koue water vir ’n paar minute en droog daarna goed af. Druk die knoffel fyn en meng dit met die botter. Smeer die bodem en kante van ’n oondvaste bak met ’n klein bietjie van die knoffelbotter.

Pak ’n derde van die aartappels in die bak. Sprinkel ’n derde van die neutmuskaat oor, sowel as ’n stewige knip sout en peper en ’n paar klontjies knoffelbotter. Doen nog ’n laag aartappels en geur soos met die eerste laag.

Sit die laaste derde van die aartappels in, gooi die room bo-op, dan die laaste sout, peper, neutmuskaat en die laaste bietjie botter. Bak dit in ’n 180-grade oond tot deurgaar en goudbruin – dit vat so 45 minute. (Sommige mense sit Gruyère-kaas ook by, maar ek verkies die meer klassieke weergawe sonder dit.)

Vat hierdie een saam na ’n braai toe die naweek en ek belowe, die mense praat volgende week steeds daaroor. Dis so vullend, dat die niks-vleis brigade ook heel gelukkig daarmee sal wees as ’n hoofdis.

bedien

6

vooraf

15 min

kook

45 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Dunner as dun…

Met ‘n mes kan ek wraggies nie ‘n aartappel dun genoeg gesny kry vir ‘n perfekte dauphinoise nie. My geheim? ‘n Mandolien! Ek’s baie minimalisties as dit by kombuisgoeters kom, maar hierdie is ‘n moet-hê staatmaker as jy enige groente of vrugte bitter vinnig vreeslik dun wil sny. Ses massiewe aartappels papierdun in twee minute? Mandolien.

Jy kan ‘n grênd een koop vir oor die R2 000, maar dis rêrig nie nodig nie. Myne is ‘n basiese een, 40-jaar oud (dit was my ma s’n en is ‘scary’ 1970s oranje) en hy doen die joppie heel goed.

Die goedkoopste wat ek aanlyn kon opspoor was by Takealot vir R199. Kry een, jy sal nie spyt wees nie

lekker saam met

Romerige, ryk disse en Chardonnay is sommer groot pêlle. Fairview se La Capra Chardonnay is vol vrugte, met hope sitrus op die neus en appel op die tong. As jy iets Frans by jou Franse dis wil drink, (en hoekom nie) probeer ‘n Chablis. Nee, dis nie ‘n vreemde druifsoort nie, dis eenvoudig ‘n Chardonnay-wyn wat van die Chablis-streek in Frankryk af kom.

Ou-wêreld wyne het baie minder vrugte op die neus en tong as waaraan ons gewoond is. Ek’s mal daaroor. Gaan loer by Checkers. Hulle het ‘n fantastiese reeks bekostigbare ingevoerde wyne, insluitend Chablis. (Hulle’t my nie betaal om dit te sê nie. Ongelukkig.)

La Capra

scroll-main

Ook beskikbaar in: English