EKSOTIES is nou nie eintlik ’n woord wat ek sal gebruik om die kos was ek as kind geëet het te beskryf nie. Dink boerewors, beetslaai, murgpampoentjies en pap, en jy’s op die regte spoor.
Ek blameer nie my ma daarvoor nie. Ek blameer die OK.
Op die piepklein hoëveld dorpie waar ons in die vroeë tagtigs gewoon het, was Denny knopiesampioene die vreemdste kosding wat jy by die OK (die enigste koswinkel op die dorp, buiten die koöperasie natuurlik) kon koop. Nie vars nie, verstaan. Geblik. Dit was woes grênd. Die enigste kaas was Gouda. En die brood was goewerment issue – wit, sag en… wel, smaakloos.
’n Paar dekades later verstout ek my steeds in enige nuwe of effe anderse kosding.
Laas Saterdag loop ek radicchio raak. Hy het seker ’n Afrikaanse naam, maar aangesien ek g’n benul het wat dit is nie, gebruik ek sommer sy Italiaanse naam (uitgespreek “radikkjo”).
Met sy rooi en wit blare, lyk dit soos liefde op ’n bord. Mens sien dit gereeld in daai pakke gemengde slaaiblare. Dis ’n effe bitter blaar waaroor die Italianers (met rede, dink ek) vrek. Bitter kos is nie iets waarvoor Suid-Afrikaners vreeslik ooghare het nie, maar hierdie is een wat jy moet probeer.
Dit was ’n heerlike sonskyndag wat gesmeek het vir ’n lui middagete in die skadu van die groot boom in my agterplaas. Toe was ek ’n paar radicchio-blare, gooi geroosterde okkerneute by en – want ek het niks skaamte nie – sommer ’n hele blok Cremezola kaas. ’n Vinaigrette stroopsoet gemaak met hope heuning was al wat hy gevra het.
Bedien ’n ciabatta, prosciutto en salami daarby en jy’t ’n heel gesofistikeerde Italiaans-geïnspireerde middagete. Maak ’n bottel vrugtige witwyn oop en die Kaap is weer Hollands.
Al wat jy nodig het is…
Een kop radicchio, gewas
Een blok Cremezola-kaas (Woolies het)
Halwe koppie okkerneute, gerooster in ‘n droë pan
4E goeie olyfolie
2E rooiwyn-asyn
1t mosterd (die een met die saadjies)
stewige knippie sout en growwe swartpeper
2E heuning
Was die blare en tuimel hulle op ’n groot bord. Rooster die okkerneute in ’n droë pan. Voeg hulle by die blare, en krummel die Cremezola oor. Meng die res van die bestanddele vir die vinaigrette en jy’s klaar!
bedien
4
vooraf
10 min
kook
0 min
goed om te weet
Wat is die verskil…
…tussen rooikool en radicchio? Wel, dis soos die verskil tussen honde en katte. Radicchio behoort and die witloof (chicory) familie, nie die koolfamilie nie. Rooikool is meer perserig in kleur terwyl radicchio die kleur van rooiwyn is.
Hier is nog ‘n paar maniere met radicchio:
- Vervang die okkerneute in my resep met brosgebraaide stukkies spek
- Maak ‘n slaai met lemoenskyfies en ‘n lemoen-vinaigrette
- Sny ‘n kop in kwarte en rooster op die braai. Gee dit ‘n blerts olyfolie, growwe seesout en swartpeper.
lekker saam met
Sauvignon Blanc is my keuse vir hierdie slaai. (Gewürtztraminer kan ook werk, of ‘n vrugtige Chenin.)
Ek het nog nie Tokara se 2013 Sauvignon Blanc geproe nie, maar die 2012 (met 3% Semillon by) het wonderlike tropiese vrugte en ‘n titsel groen, net waarvan ek hou in ‘n Sauvignon Blanc. As jy rooi wil gaan, kies ‘n ligter een wat sag en rond in die mond is.
Los 'n Boodskap