Klein happies goed en ek hoort eenvoudig nie in dieselfde kombuis nie. Ek blameer die sewentigs en tagtigs vir hierdie klein-kos aversie van my.
Blokkies Gouda-kaas en klein skelrooi uitjies op tandestokkies. Grou mini worsrolletjies. Baba Weense worsies en soet-mosterd doopsous – met tandestokkies, natuurlik, sodat mens nie onbeleefd jou vingers staan en aflek nie. Die skade is permanent.
Maar daar’s hoop. Ek wonder al hoeka oor Goldcrest se geblikte baba appels. Is dit ‘n spesiale soort miniatuur appel wat nooit groter gaan word nie, maak nie saak hoe lank hy aan die boom bly nie? Of is dit ‘n babatjie wat wreedaardig gestroop word lank voor hy reg is?
Ek weet nie, en ek het beter dinge om te doen as om te probeer uitvind. Maar ek dink nogal hulle is oulik, veral met ’n stroopsoet, harde toffie kombersie.
Al wat jy nodig het is…
1 blik baba appels
1 koppie witsuiker
¼ koppie water
¼t witasyn
¼t kaneel
¼t rooi voedselkleursel (opsioneel)
Smeer ‘n kleefvrye bakplaat met sonneblomolie. Dreineer die appels, droog elke appel goed af en hou eenkant. Kook nou die res van die bestanddele saam oor ’n lae hitte.
As jy ’n suikertermometer het, is dit reg as die stroop 150°C bereik. Ek het nie een nie, en dis nie die einde van die wêreld nie. Kook eenvoudig jou suikerstroop vir so 20 minute. Skep ’n paar druppels uit en gooi dit in koue water. As dit onmiddelik kliphard en bros set sodat dit maklik is om te breek, is jou suikermengsel reg.
Verwyder van die hitte en sodra dit ophou borrel, kan jy begin appels doop. Tel ’n baba appel aan sy stingel op en doop hom in die stroop. Ek hou die pot effens skuins, sodat dit makliker is om die hele appel te doop. Maar wees VERSIGTIG, want suikerstroop is gevaarlik warm. Dis nie ‘n ding waarmee jy werk as jy tegelykertyd sewe ander goed wil doen nie. Ignoreer die luiende foon, blaffende honne en neulende kinders maar tot jy klaar is.
Dompel die stroop-appel in ‘n bakkie yswater (letterlik vir een sekond) en sit dit op die bakplaat. Herhaal met die res van die appels. Eet onmiddelik. As jy dit tot môre laat staan, sal die harde suikerlagie begin sweet – en sweet is nooit ‘n mooi ding nie.
bedien
12
vooraf
5 min
kook
20 min
goed om te weet
Pret met neute
Jy kan twee of drie eetlepels geroosterde sesam-saad in die stroopmengsel gooi net voor jy die appels doop. Die neuterigheid is heerlik en die sesam-bedekte baba appels tog te fraai.
Appel en pekan-neut is nog ‘n wonderlike kombinasie. Rooster ‘n pakkie pekan-neute in ‘n droeë pan en bedien saam met jou appels.
lekker saam met
Hierdie baba toffie-appels is ‘n tong-innie-kies poeding. ‘n Speelse ietsie soets vir kinders, wat ek grootmens maak deur dit te bedien met ‘n knerts Calvados, ‘n appel-brandewyn van Frankryk af.
‘n Happie appel, ‘n teugie brandewyn en skielik is toffie-appels heel gesofistikeerd.
Heerlike ontdekking van so ‘n lekkerlees kosblog in Afrikaans.
Dankie Errieda
Dis ‘n wonderlike ding om te hoor – komende van jou!
Maklike resep vir ertjie sop