Enigiemand met ‘n kat weet – dáársie so ding soos laat slaap nie. Nie eens naweke nie. Maak nie saak hoe laat ek die Vrydagaand gekuier het of hoe oes ek voel nie, Merlot het geen genade nie. Op ‘n Saterdagoggend begin sy my klokslag sesuur karnuffel. Uitgaan. Speel. Drukkies. Kos. Sy soek dit in daai orde en sy vattie nonsens nie.
Die enigste gelukkigheid van hierdie vroeg-uit-die-vere drama is dat ek my inkopies vir die week gedoen kry terwyl die hordes nog hulle roes lê en afslaap.
Amiena by die Old Biscuit Mill in Woodstock is ‘n wondervrou wat so te sê enigiets vir my in die hande kan kry. Van vars borrie tot dubbeldoor eiers. Laas Saterdag sien ek die eerste breëbone van die seisoen by haar en raak skoon begeesterd met die idee van ‘n lenteslaai… Groener-as-groen met breëbone, ertjies, komkommer en tonne ment.
Al wat jy nodig het is…
1 pak gemengde slaaiblare (hierdie is ‘n fraaie, vroulike slaai, so gebruik verkieslik kleiner blare)
1 Engelse komkommer
2 wiele fetakaas
1 koppie mentblare
1 koppie bevrore ertjies
1 koppie breëbone (as jy nie breëbone kan kry nie, verdubbel eenvoudig die hoeveelheid ertjies)
2 sprietuie, fyngesny
3E goeie olyfolie
2E suurlemoensap
knippie spout
knippie growwe swart peper
Gooi kookwater oor die bevrore ertjies en laat staan vir ’n minuut of twee om te ontvries. Dreineer en sit eenkant. Dop die breëbone uit hulle peule. Gooi kookwater oor die bone en laat staan vir 30 sekondes. Dreineer en trek dan die taai wit dop om elke boon af. Binne-in is ’n klein smarag wat proe soos lente. Sny linte komkommer al met die lengte van die komkommer langs (gebruik ‘n groenteskiller).
Tuimel die slaaiblare, ertjies, breëbone, sprietuie, komkommer en mentblare (skeur in die helfte as hulle baie groot is) op ’n mooi, platterige slaaibord. Krummel die feta oor. Meng die olyfolie, suurlemoen, sout en peper en gooi oor net voor jy opdien.
Nasionale Braaidag is om die hoek! As jou kop lamtjoppie se kant toe staan, is hierdie een die ideale groenigheid. Hy’s ook lekker saam met hoender. Maar jou buurman gaan jou miskien skeef kyk as jy nou op ons belangrikste nasionale dag ‘n geveerde gedierte loop braai.
bedien
6
vooraf
20 min
kook
0 min
goed om te weet
5-minute breëboon-patee
Die breëboon-seisoen is kort, so ek eet hulle soveel ek kan, terwyl ek kan. Ek maak ‘n kits patee met dieselfde bestanddele wat ek in my lenteslaai gebruik. Blits eenvoudig ‘n koppie geblansjeerde, gedopte breëbone saam met ‘n halwe koppie feta-kaas, 3 eetlepels goeie olyfolie, die groen gedeelte van een sprietui en 2 eetlepels suurlemoensap. As dit te dik is, voeg ‘n paar druppels water by.
Gryp kraakvars knoffelrige bruschetta, vou ‘n paar linte komkommer bo-op, dan ‘n skeppie patee en uiteindelik ‘n klein mentblaar en draaitjie swartpeper. ‘n Lekker knabbelding voor ete.
lekker saam met
Semillon is een van daai kultivars wat dikwels gebruik word om ‘n bietjie lyf aan ‘n Sauvignon Blanc te gee. Ek’s dol oor hom op sy eie en een van my top-waarde gunstelinge is Ormonde Private Cellar se 2010 Ondine Semillon. Dis ‘n wonderlike wyn by slaaie wat komkommer en mint bevat en is ook die perfekte pasmaat as jy voor ete aan groen olywe gaan knabbel.
Ormonde se wingerde in die Darling streek word afgekoel deur mis van die koue Atlantiese oseaan net oor die bult. Dit gee hierdie wyn ‘n lieflike kraakvars karakter met groen gras-, lemmetjie-en appelgeure.
Los 'n Boodskap