Ek plaas nie gereeld vegetariese resepte nie. Eintlik amper nooit want sien statistieke jok nie, en wat myne vir my sê is dat my lesers vrek oor vleis – hoe rooier hoe beter! Maar lewe net van skaaptjops en boerewors is nie die wysste leefstylkeuse nie, dus maak ek vir ’n verandering ’n uitsondering met iets vegetaries. Ek pak lensies propvol goed-vir-jou groente en gee dit ’n stewige rokerigheid was dit amper laat smaak of daar vleis in is. Vir die broodnodige proteïne? Perfek gekookte ‘jammy’ eiers.

Al wat jy nodig het is…

3E olyfolie
1 groot ui, fyn gesny
3 knoffeltone, fyn gesny
1 rooi soetrissie, (red pepper) fyn gesny
1 geel soetrissie, fyn gesny
1 klein rooi rissie, fyn gesny
derde teelepel sout
½t suiker
1½E gerookte paprika
1 x 400g blikkie lensies, afgespoel en gedreineer
2 koppies baba spinasie
8 stiggies koljander, rofweg gekap
4 ekstragroot eiers, teen kamertemperatuur

Gooi die olie in ’n groot kleefvrye pan saam met die uie, knoffel, soetrissies, rissie, sout en suiker. Braai oor medium hitte (roer deurentyd) tot die groente sag is. Voeg die gerookte paprika by en braai vir ’n verdere twee minute. Voeg die lensies, spinasie en koljander by en roer goed. Proe en voeg sout by indien nodig. Sit deksel op en verwyder van die hitte.

Om die gekookte eiers te maak, laat sak eiers in ’n kastrol met kokende water. Kook vir ses en ’n halwe minute. Skep eiers in yswater. Sodra hulle koel genoeg is om te hanteer, rol hulle op ’n hout oppervlak om die doppe te kraak en skil die eiers. En nou vir my top wenk: Druk die eiers liggies – as hulle veels te sag voel, plaas hulle eenvoudig (so doploos en al) terug in die kokende water vir nog so dertig sekondes. Rangskik eiers op lensies, en garneer met nog koljanderblare of mikro kruie.

bedien

2

vooraf

15 min

kook

30 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English