Saterdag, 9 Oktober, is amptelik Pinotage Dag. Ek het nie juis ’n verskoning nodig om ’n bottel van hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar oop te maak nie, maar toe kry ek een ­­­­– in die vorm van hierdie resep vir ’n sjokolade truffeltert! Die mense van FAT Bastard wyne het dit vir my gestuur want hulle meen dis die ideale soete bederf saam met hulle Pinotage. Met pruime, donker vrugte, sjokolade en mokka op die neus en die tong is hierdie Pinotage ’n tonekrul lekkerte. En die truffeltert? Pure verleiding. Sjokolade saam met Pinotage? Verseker!

scroll-main

Sjokolade Truffeltert: So maklik om te maak en verleidelik verby!

scroll-main

AL WAT JY NODIG HET IS:

VIR DIE TERTDOP

90g versiersuiker
25g kakao
30g amandels, fyn gemaal
120g sagte botter
knippie seesout
1 ekstra-groot eier
220g koekmeel

VIR DIE VULSEL

300g goeie donker sjokolade, met ’n 70% kakao inhoud
350ml room
50g heuning

Spesiale toerusting: 24cm losbodem-tertbak

Vir bedien: Fyn seesout vlokkies en vars bessies soos framboos en aarbei

METODE:
OM DIE TERTDOP TE MAAK

Plaas die versiersuiker, kakao en gemaalde amandels in die bak van ’n staanmenger. Skakel en aan en meng deeglik. Voeg die sagte botter en sout by en meng goed op lae spoed. NB: Gebruik die ‘paddle’ om dit te doen, nie die groot klitser stuk nie, jy wil nie lug in die lotjie inklits nie.

Voeg die eier by en meng tot gekombineer. Voeg die meel by in drie fases. Sodra die meel net-net ingemeng is, skakel die menger af – dis belangrik om die mengsel nie te oorwerk nie.

Druk die deeg plat en vorm ’n rowwe sirkel. Maak toe in kleefplastiek en plaas in die yskas vir ’n uur. (Die deeg kan ook die vorige aand gemaak word. En as jy fluks is kan jy alles met die hand meng. Ek is nie fluks nie…) Bestrooi ’n skoon oppervlak met bietjie meel en rol die deeg in ’n sirkel uit wat ’n paar sentimeter groter as die tertbak is. Rol die deeg om jou koekroller en rol dit versigtig in die tertbak uit. Druk die deeg goed in die tertbak vas, veral in die hoekies waar die tert se basis die kant ontmoet. Gebruik ’n skerp messie om die orige deeg gelyk met die rand van die tertbak af te sny. Plaas in die yskas vir 30 minute. Prik die tertbasis met ’n vurk en plaas in ’n voorverhitte 170˚C oond. Bak vir 20-25 minute. Laat die tertdop heeltemal afkoel voor jy dit verwyder en op ’n opdienbord plaas.

OM DIE VULSEL TE MAAK

Kap die sjokolade fyn en plaas dit in ’n dubbelkoker. (Of plaas dit in ’n glasbak wat netjies oor ’n pot pas. Vul die pot met net ’n paar sentimeter water en maak seker dat die water nie aan die bodem van die glasbak raak nie.) Smelt die sjokolade en roer af en toe. Verhit die room en heuning saam in ’n aparte pot. Verwyder sjokolade van die hitte sodra dit gesmelt is. Voeg die room by die sjokolade in drie sarsies en roer goed na elke toevoeging. (Soos jy die room byvoeg sal dit aanvanklik lyk of die lotjie nie bymekaar gaan kom nie, maar hou moed en hou aan roer – op die einde sal dit fluweelglad wees.)

Gooi die warm sjokolade-vulsel in die tertdop en plaas in die yskas om te set. Voor jy bedien bestrooi die tert met ’n knippie seesout vlokkies. Sny en sit voor met bessies.

Ook beskikbaar in: English