Hier net na Kersfees daag die wonderlike Isabella Niehaus by my voordeur op met die ongelooflikste geskenk – twee kilogram vet, swart Weskus mossels wat waarskynlik daai oggend nog aan ’n rots geklou het. Isabella is een van my kos ikone. Haar Langtafels op die Duin by haar praghuis langs die see in Langebaan is legendaries. Dis hier waar jy kan gaan aansit vir ’n Sondagmiddagmaal wat jou tone sal laat krul van die lekker. Isabella is ’n bobaas kok en sy toor veral met seekos – haar vyfgang Langtafel maaltye sluit gereeld bederwe soos oesters, mossels en vars vis op die braai in.
En nou het sy besluit om vyftien van haar mossel resepte met die wêreld te deel in ’n splinternuwe mini digitale boek, Isabella’s Mussel Feast. Dis haar tweede resepteboek. Haar eerste, Duinhuis, het die topprys in die 2020 Gourmand World Cookbook Awards losgeslaan. Ek sê mos sy kan kook!
Isabella sê jy moet hierdie mossel gereg van haar met ’n bros brood bedien. Ek is mal oor tamatie-bruschetta, en omdat hierdie mossels tamatie en basiliekruid bykry besluit ek om ’n stappie verder te gaan en crostini te maak deur snye bros baguette te rooster, hulle met olyfolie te bedruip en ’n vryfie vars knoffel te gee. Wat jy ook al broodsgewys doen, skink gewis ’n glas witwyn by Isabella se oondgeroosterde mossels. Sy’t vir my ook ’n bottel premium Du Toitskloof Old Vine Sauvignon Blanc in my verrassingspakkie geglip. Net 4000 is gebottel en myne met die hand gemerk as #1490. Dis kraakvars met ’n intense vrugte neus en ’n sweempie mineraliteit – absoluut perfek by die minerale seesout noot van die mossels. Hop gerus oor na Isabella se nuwe webwerf en bestel ’n kopie van haar nuwe mosselboek en sommer van Duinhuis ook!
Al wat jy nodig het is…
500g kersietamaties, effe platgedruk
¼ koppie kappertjies
2E olyfolie
2 knoffeltone, geskil en in skyfies gesny
1 rooirissie, gekap
2kg vars mossels, skoongemaak (ruk net enige sigbare baard af, moenie in water was nie!)
1 koppie basilieblare
vir bedien; bros baguette of crostini
Voorverhit jou oond tot 200 grade Celsius. Tuimel tamaties, kappertjies, knoffel en rissie op ’n groot bakplaat en bedruip met olyfolie. Rooster vir 15-20 minute totdat tamaties net-net begin sag raak. Voeg die mossels by en bedek die bakplaat met foelie. (NB: Vorm ’n klein koepel met die foelie sodat die mossels plek het om oop te maak.) Rooster vir nog 15-20 minute totdat die mossels oop is. Skep die tamaties en mossels op ’n groot fraaie bord, versier met basilieblare en bedien saam met bros baguette of crostini.
bedien
4-6
vooraf
20 min
kook
40 min
Los 'n Boodskap