Vat die pad Kaapstad uit op die N2 en binne ’n uur of wat is jy by die voet van Sir Lowry’s Pas. Dan klim jy binne minute amper ’n halwe kilometer en wat voor jou ontvou as jy eers bo is, is ’n hele ander wêreld. Welkom in die Overberg.
Elgin is appel en peer wêreld, maar dis ook wynwêreld, met ’n terroir anders as in enige ander wynstreek in Suid-Afrika. Die hoogte bo seespieël, gekombineer met die koel briese van die nabye Atlantiese oseaan, maak hierdie koelklimaat wynwêreld by uitstek.
Elgin Vintners is een van die baanbrekers in die geweste, dus spring ek toe hulle my uitnooi om te kom kuier.

Die Elgin Vintners span, van links na regs: James Rawbone-Viljoen, Marinda Kruger-Claassen en stigter Dr Max Hahn.
Stigterslid, Dr Max Hahn, het die plaas Elgin Orchards, tuiste van Elgin Vintners, in 2001 bekom, maar sy pad met hierdie prag stuk grond loop ver. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die destydse eienaars, die Denniston familie, die plaashuis se deure wyd oopgegooi vir beseerde soldate en Dr Hahn se pa was een van hulle. So met die herstel is vriendskapsbande gesmee en die klein Max was ’n gereelde besoeker op die plaas.
Wetenskap en mediese grade is gevolg deur ’n lang loopbaan as sakeman – tot die dag wat geluk op sy skouer kom klop het met die kans om Elgin Orchards oor te neem.
Vir baie is die idee van druiwe groei en wyn maak romanties. Dr Hahn het ’n logieser kop op sy skouers. Die besluit om met druiwe te diversifiseer is geneem toe die appelbedryf ’n paar dwarsklappe kry, en omdat hy geglo het dat die koel klimaat van Elgin topwyne kan lewer. Voorwaar profeties, want so twintig jaar later is hierdie streek die tuiste van van ons beste wyne.
Die span by Elgin Vintners is klein, heg en passievol. Mede eienaar, James Rawbone-Viljoen, fokus op bemarking. Sy gewilde begeleide wynproe sessies maak hom die gesig van Elgin Vintners.
Wynmaker, besigheidsbestuurder en aandeelhouer, Marinda Kruger-Claassen, het die wêreld lank platgetrap met oeste en wynmaak in Europa en Australië. Toe die kans om by Elgin Vintners aan te sluit haar kant toe kom was dit neusie verby – die koel klimaat het haar geroep. “Ons druiwe word stadig ryp hier, daar’s niks stres nie. Ek glo enigiets wat langer vat is beter,” vertel sy. Sy’s doodreg want die wyne uit die Elgin Vintners stal steier onder die toekennings.



Die fokus hier is natuurlik op die kultivars wat goed vaar in koeler klimate: Sauvignon, Chardonnay, Pinot Noir en Shiraz. Dis was ’n ongelooflike voorreg om saam met haar haar Elgin Vintners ‘babas’ te leer ken. Na ’n verwelkomende glas Bele Amie Blanc de Noir (sy is inderdaad ’n ‘mooi vriendin’) onder die bome sit on aan in die spinternuwe proelokaal. Saam met die wyn is daar klein blokkies kaas, spesiaal gekies om elke wyn te komplimenteer. Daar’s vele proe opsies om van te kies by Elgin Vintners, insluitend hierdie kaas een.

As die honger begin knaag is daar raad in die vorm van ’n soutbord bestaande uit droëwors en biltong, asook ligte maaltye soos quiche en slaai. En dan is daar die pizzas. Mens, hulle’s lekker verby met dun basisse, hope kaas en interessante ekstras. Ek’s maar lekker vol fiemies as dit by kos kom, so dit vat baie vir my om te sê iets is lekker verby!
Pienieks is daar ook, en jy kan kies tussen ’n mandjie vir twee of vir vier.

Al hierdie lekkerkry geniet jy in die allermooiste natuurskoon. Daar’s eeue-oue akkerbome, lowergroen grasperke, blou berge in die verte en ’n Engelse-styl tuin waar die geur van rose en laventel jou oorrompel.


Dit maak Elgin Vintners natuurlik ook die perfekte plek om bruilof te hou. Nog meer so omdat die ou herehuis deel van die troupaket is. Dis in Herbert Baker styl ontwerp en in 1927 gebou. Die span van Elgin Vintners het hierdie statige dame bietjie aandag gegee, en nou spog sy met klassieke styl en al die moderne luukses waarsonder ons nie ’n dag kan klaarkom nie.
Mens het natuurlik nie trou as verskoning nodig nie – die herehuis is vir almal te huur en kom saam met toegang tot ’n tennisbaan, braai area en swembad.




Of jy nou ’n naweek bly of net vir die dag inval, ’n besoek aan Elgin Vintners is ’n absolute moet-doen hierdie somer. Dis net ’n katspoegie van die N2 af, so daar’s geen verskoning om nie af te draai nie.

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling.
Los 'n Boodskap