#1: QUOIN ROCK Chardonnay 2018

Chardonnay word beskou as die ‘winterkeuse witwyn’. Die 2018 Quoin Rock is ’n pragtige strooikleur met ’n sweempie groen. Op die neus is daar aantreklike ryp sitrus, veral lemoenskil, asook vanielje en brioche. Op die tong is daar sitrus en ’n botter rykheid met ’n lang intense einde propvol suurlemoengeur. Die wyn vertoon suur en mineraliteit in perfekte balans. Wynmaker Schalk Opperman sê hy geniet die wyn op sy eie na ’n lang besige dag in die wingerd of as hy vriende onthaal. Ek dink R400 per bottel is bietjie woes vir sommer net oopmaak na ’n lang dag. Hierdie is ’n spesiale-geleentheid wyn en perfek vir bedien met bederf-seekos, veral kreef!

#2: GLEN CARLOU Quartz Stone Chardonnay 2020

Die 2019 oesjaar is 92 punte toegeken deur Tim Atkin (MW), dus het die 2020 groot skoene om te vul maar wynmaker, Johnnie Calitz, meen sy nuwe vrystelling is meer as opgewasse. Die Chardonnay druiwe vir hierdie wyn is vroegdag gepluk om die suiwer vrugtegeure so goed moontlik te bewaar. Op die neus is daar hope sitrus, witperske, spesery en roosterbrood. Op die tong is daar lemmetjie en botterskorsie, met ’n lang, komplekse einde vol marmelade en romerige amandel. Die prys vir hierdie premium Glen Carlou Chardonnay? R340 per bottel.

#3: WELGEGUND Heritage Wines Chenin Blanc 2019

Hierdie Saterdag, 19 Junie 2021, word die agtste internasionale #DrinkChenin-dag gevier. Chenin is miskien nie een van die edele kultivars nie, maar in die regte hande maak hierdie druif uitsonderlike wyn. Welgegund se beperkte-vrystelling Heritage Chenin 2019 is in die vat gefermenteer van druiwe afkomstig van ’n 47-jaar oue droëland wingerd. Op die bottel pryk die ‘Old Vine Project Heritage Certification’ seël – ’n wêreld-eerste!

Die wynmaker, Friedrich Kühne, sê die 2019 is uitsonderlik in elke opsig, die beste in donkiejare. ’n Derde van die wyn is in 2de-vul Franse houtvate verouder vir 14 maande. Op die neus is daar komplekse lae van sitrus, ryp peer, kweper en vars perske. Dis sag en elegant op die tong met tonne lemmetjie, stervrug en spanspek. Die einde is lank en intens met souterige minerale, asook neuterige note. Hierdie is ’n seekos-wyn by uitstek, maar dit sal ook pas by soesji, en poeding soos suurlemoentert asook enigiets met nougat in. Slegs 1801 bottels is vrygestel, elkeen individueel genommer – dus ’n wonderlik spesiale Vadersdag geskenk. Die prys? R288 per bottel.

#4: GLEN CARLOU Blanc de Blancs Brut 2018

Daar is soveel Cap Classique vonkelwyne wat hy hart laat bons, en Glen Carlou se Blanc de Blancs Brut 2018 is definitief voor in die koor. Soos jy uit die Blanc de Blancs naam kan aflei, is dit gemaak van 100% Chardonnay druiwe. Die druiwe is in die vroegdag koeligheid gepluk wanneer die lae temperature die vrugte op hulle beste laat vertoon. Die druiwe vir hierdie Cap Classique kom van die Simonsberg-Paarl streek asook Robertson.

Die wyn is natuurlik in die bottel gegis en vir 30 maande op die moer gelaat. Op die neus is daar prominente witperske, kaneel en subtiele jasmynblom. Maar dis nie al nie. Daai brioche aromas waarvan ek soveel hou in ‘n bottel-gegisde vonkelwyn is daar hope van, asook suurlemoen, lemmetjie en kraakvars groen appel. Die borrels oftewel ‘mousse’ is besonders fyn – ‘n regte skouperd van ‘n wyn. Dis beskikbaar aanlyn of in hulle proelokaal teen R320 per bottel. Dis ’n premium prys ja, maar onthou dis ‘n skouperd en hy spog met 4,5 Platter sterre. Die ideale Vadersdagbederf as Pa van borrels hou.

#5: GLEN CARLOU Gravel Quarry Cabernet Sauvignon 2018

Die vorige oes van hierdie wyn is ’n indrukwekkende 91 punte toegeken deur Tim Atkin (MW) in sy 2020 South African Wine Report. Die enkelblok Gravel Quarry Cabernet Sauvignon 2018 beloof om in sy voorganger se voetspore te volg. Die druiwe vir hierdie wyn is geplant in ’n gerehabiliteerde steengroef met graniet en ‘koffieklip’ grond. Dis ’n swaargewig, gesofistikeerde knaap wat hulde bring aan sy terroir in elke teug. Op die neus is daar hope donker bessies, donker sjokolade en seder. Hy’s perfek gebalanseer, vol en kompleks met subtiele eikehout note te bespeur. Die beursieskade is R440 per bottel. Hierdie pas-vrygestelde oes is weliswaar ’n beleggingswyn, perfek vir die pa wat ernstig is oor sy rooiwynversameling. Dis uitsonderlik nou, en dit gaan net beter word met die rondlê.

#6: DE GRENDEL Amandelboord Pinotage 2018 of 2019

De Grendel se Amandelboord Pinotage is die eerste keer in 2015 vrygestel, en elke oes sedertdien skop stof in die oë van die kompetisie. Die 2015 is 91 punte toegeken deur Tim Atkin (MW), die 2016 het die beste Pinotage prys losgeslaan in die Old Mutual Trophy Wine Show, en die 2017 is met Michaelangelo dubbele goud beloon.

Winemag.co.za het so pas die 2018 met ’n Top 10 plek beloon en die 2019 is 93 punte toegeken deur Tim Atkin. Op die neus van hierdie uitstaan Pinotage is daar intense maraschino-kersies, donker pruim en piesang-geur Wilson toffie. Dis mediumgewig met geroosterde note en soet pruim op die tong. Dis ongelooflike waarde gegewe wat in die bottel is – die prys is hier by die R240 merk. ’n Briljante rooiwynkeuse vir Vadersdag.

scroll-main

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling.

scroll-main

Deel hierdie artikel

Ook beskikbaar in: English